Jy’t nog net vandag tyd om jou veters vol kleur en plakker vir Tekkie Tax-dag te koop. Tekkie Tax-dag word môre landwyd gevier op Vrydag, 27 Mei en dis jou kans om jou voete vir jou hart te laat praat.
Kies jou plakker vir ’n saak wat jou na aan die hart lê, tooi jou tekkies met ’n paar waaghalsige Tekkie Tax veters en siedaar – jy is reg vir Nasionale Tekkie Tax-dag.
Vir so min as R35 per skoenveter pakkie, of R10 vir ’n plakker, kan jy deelneem. Maak seker jy koop sommer vandag nog by Vrystaat Versorging in Aksie se kantoor in Buitenstraat, of by Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Boomstraat, en onderseun só ons plaaslike welsynsorganisasies wat wurg om met knypende finansies die mas op te kom.
Die veldtog word vanjaar onderskryf deur 11 nasionale welsynsorganisasies wat altesaam meer as 1 000 plaaslike organisasies verteenwoordig, waaronder Epilepsie SA, Kindersorg SA, SOS Children’s Villages, CHOC (Childhood Cancer Foundation), Special Olympics SA, CANSA, Imisebeyelanga Services, Meals on Wheels, VVA, NG Welsyn en SAVF.
Die Tekkie Tax projek is in 2013 begin toe die land se grootste en mees geloofwaardige welsynsorganisasies kragte saamgesnoer het om een groot fondsinsamelingsprojek van stapel te stuur. Nou is dit jou beurt om ’n verskil vir hierdie organisasies te maak.



