Local news

Boepensbroodjies by die duisende vir Bybels

Dit bly 'n voedsame en lekker winskopie om meer as net die honger te stil

In die kerksaal van die NG gemeente Parys-Oos is dit dié week die ene bedrywigheid. Gasstowe en jaffelpanne op ’n ry, 750 brode wat gesmeer word. Altesaam 360kg vleis en 140kg groente wat gaargemaak word. Die eindresultaat 6 000 smullekker Boepensbroodjies (jaffels) wat weer vanjaar verkoop word. Boepensbroodjies wat meer as net jou honger kan stil, want vir jare al help dié boepensbroodjies die Bybelgenootskap om Bybels bekostigbaar te kan verkoop.

Dié gemeente se Jaffel-projek en pretdag wat met die uitsondering van 2021 al die afgelope 20 jaar aangepak word, help elke jaar om tussen R50 000 en R60 000 vir die Bybelgenootskap bymekaar te maak.

Die projek is aanvanklik deur ’n Vanderbijlparkse gemeente begin en het Parys-Oos gehelp maar het dit toe eie aan Parys geword.

Vandag is die Bybel steeds die mees gelese boek ter wêreld. Tog was daar in 2022 steeds 3948 van die 7 359 tale in die wêreld wat nog geen deel van die Bybel op skrif gehad het nie, en net 700 tale met ’n volledige Bybel.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is die enigste instansie in Afrika wat Bybels kan vertaal en druk. Vir die Bybelgenootskap om Bybels bekostigbaar te kan verkoop, beteken egter dat daar jaarliks ‘n verlies gelei word.

Danksy inisiatiewe soos die Jaffel-projek, en pretdag van die NG gemeente Parys-Oos , wat maar net enkele van die inisiatiewe is wat die Bybelgenootskap in sy groot taak ondersteun, kan Bybels steeds bekostigbaar verkoop word, want elke vier jaffels maak ‘n bekostigbare Bybel moontlik. Die jaffels kan van Woensdag 1 Februarie om 11:00 by die kerksaal h/v Loop- en Paulsenstraat afgehaal word, asook op Donderdag en Vrydag (2 & 3 Februarie).

Onthou om vooraf te bestel by die kerkkantoor by tel. (056) 811 3791. Teen R15 bly dit ‘n winskopie vir ‘n voedsame maal in ‘n kosblikkie, ‘n vinnige middagete vir die kinders, of wanneer jy onverwags gaste kry. Koop genoeg en maak sommer die vrieskas ook vol, want dié boepensbroodjies kan jy  met groot sukses vries.

Jy kan nog tot Vrydagoggend 3 Februarie bestel.

Onthou ook die pretdag by die kerkterrein op Saterdag 4 Februarie. Bring die gesin, bring jou hond en kom stap saam ten bate van die Bybelgenootskap.

Related Articles

Back to top button