NewsNews

Voëlmigrasie – ’n reis oor duisende kilometers

Suid-Afrika se natuurskoon en natuurlike mildadigheid, lok nie net mense uit baie dele van die wêreld nie. Elke jaar migreer ook duisende voëls na ons mooi land aan die suidpunt van die Afrika Kontinent om die somer hier deur te bring. Navorsing bewys dat ongeveer 185 voëlspesies elke jaar vanaf Europa en Asië in die noorde, na Suider Afrika en terug vlieg. Hierdie spesies sluit van roofvoëls, tot insekvreters en saadvreters in.

Suid-Afrika se natuurskoon en natuurlike mildadigheid, lok nie net mense uit baie dele van die wêreld nie. Elke jaar migreer ook duisende voëls na ons mooi land aan die suidpunt van die Afrika Kontinent om die somer hier deur te bring. Navorsing bewys dat ongeveer 185 voëlspesies elke jaar vanaf Europa en Asië in die noorde, na Suider Afrika en terug vlieg. Hierdie spesies sluit van roofvoëls, tot insekvreters en saadvreters in.
Spesies volg min of meer dieselfde migrasieroetes elke jaar. Voëlmigrasie is al vir solank as 3 000jr gelede deur antieke Griekse skrywers aangeteken. Migrasie is seisoenale bewegings wat deur baie voëlspesies onderneem word en die gewoonte om te trek is ’n natuurlike reaksie op ’n aantal faktore. Dit kan reaksie wees op die tekort aan voedselbronne, verandering van die weerstoestande of klimaat (winter en somer). Somer en winter, wat langer en korter sonskyn dae beteken, het ’n  groot invloed op voëls se broeipatrone.
Voëls se vinnige metabolisme vereis ’n  ryk en volop voorsiening van kos op ’n  gereelde basis. So ’n  voorsiening kom nie deurlopend deur die hele jaar in enige gegewe streek voor nie, want die voedselbron in die streek verander namate die seisoene verander. Dan moet daar getrek word na beter weivelde.
Die migrasie patrone/roetes van voëls in die Suidelike Halfrond is gewoonlik van suid na noord en omgekeer. Sekere spesies vlieg lang afstande gedurende hulle jaarlikse migrasie, soms duisende kilometers. So ‘n langafstand roete sal dan ‘n reeks habitatte insluit wat geskik is vir voëls om oor te staan vir rus en om ekstra kos in te neem vir energie om die reis verder voort te sit.
Migrasie word ingedeel in drie soorte naamlik inter-kontinentale migrasie (van die kontinente in die noorde na die Afrika kontinent en terug), intra-Afrika migrasie (noord na suid en andersom binne die Afrika kontinent) en vertikale migrasie as gevolg van verandering in plaaslike weerstoestande (in bergagtige dele, van hoogliggende na laagliggende gebiede).
Baie voëls trek in groot swerms en hulle vlieg op verskillende hoogtes gedurende migrasie.
Om te kan trek, veral oor lang afstande, moet voëls oor die vermoë beskik om hulself te oriënteer en te kan navigeer en dit is gebasseer op ’n  verskeidenheid van faktore en hulle sintuie.
Hulle moet kan aanpassings maak gebaseer op tyd, ook aanpassings gebaseer op hulle vermoë om die aarde se magnetiese velde te kan aanvoel. Dan beskik hulle ook oor die vermoë om sigbare landmerke te herken en te volg.
Langafstand migrante ontwikkel ’n  gehegtheid aan hulle voorkeur broeiterreine en hulle voorkeur oorwinter gebiede.
Wanneer hulle eers ’n  terreingehegtheid ontwikkel het, sal hulle dan getrou jaar na jaar dieselfde rerrein weer besoek.
Die vermoë van voëls om te navigeer gedurende migrasie word nog nie volledig verstaan nie. Wat egter duidelik is, is dat hulle habitatte kan herken en dit lyk ook of hulle brein denkbeeldige kaarte van hulle roete kan vorm.
Gedurende die dag is die son die punt van oriëntering om te navigeer en dit blyk dat voëls instaat is om te kompenseer vir die beweging van die son deur die dag.
Voëls wat gedurende die nag vlieg, gebruik die sterre om hulle rigting te bepaal en te hou. Voëls wat gedurende die dag trek is gewoonlik groot soorte soos arende en ooievaars wat van die warm lugstrome gebruik maak om te sweef en sodoende energie spaar.
Die kleiner insekvreters trek gedurende die nag om gevare van predasie en oorverhitting te voorkom en in die dag te land om te eet om energievlakke aan te vul.
Die trekvoëls wat in die Vredefort Koepel voorkom is almal somer besoekers, waarvan sommige hier broei en die ander broei in die Noordelike Halfrond.
Onder die roofvoëls wat in ons omgewing as besoekers tel is die Bruinjakkalsvoël/Common Bazzard (sien foto) wat vanaf Siberië en Europa, waar hulle broei, migreer om die somer in Suid-Afrika deur te bring. Hier kan hulle as een van ons mees algemene roofvoëls waargeneem word. Hulle onderneem ’n  reis van ongeveer 12 000km tweekeer per jaar.
Die Oostelike Rooipootvalk/Amur Falcon (sien foto), wat gedurende ons somer in groot getalle in ons omgewing gesien kan word, migreer vanaf China en Mongolië oor Indië tot in Suid-Afrika. Die redelike klein valkie doen ’n  reis van ook ongeveer 12 00 km tweekeer per jaar.
Voordat die Indiese Regering dit onlangs verbied het, was hierdie voëls in ’n  sekere provinsie in Indië, waar hulle oorstaan op hulle reis, met nette gevang om te eet.
Onderdie migrerende insekvreters tel byvoorbeeld die baie klein (9gr) Hofsangertjie vanaf Europa en Ierland, en die Europese Vlieëvanger (15gr), vanaf Europa. Albei broei in die Noordelike Halfrond.
’n  Ander fassinerende storie is dié van ’n  ander roofvoël, die Wespwedief/European Honey Buzzard, wat in Finland met ’n  sateliet opsporingstoestel toegerus was. Dieselfde voël het die somer van 2015 in die omgewing van Reitz in die Vrystaat deurgebring. Dit het die Reitz-omgewing op 20 April 2015 op reis na Finland in die noorde verlaat. Die voël se reis kon via die satelliet gevolg word en dit het min of meer dieselfde lengtegraad gevolg tot sy bestemming in Finland. Hy het sy bestemming in Finland op 2 Junie 2015 bereik. Die reis van ongeveer 10 000 km het hy in 42 dae voltooi teen ‘n gemiddelde spoed van 235 km per dag. Verstommend!!!!!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button