Local news

Drankraad sit vandag om taverne-aansoek en besware van kerke, sakelui te hoor

Die aansoek word op verskeie gronde geopponeer.

Wintics Trading CC se aansoek by die Vrystaatse Dobbel- en Drankraad vir die verskuiwing van die taverne drankregistrasie vir die Big Daddy Tavern van die perseel oorkant die taxi-staanplek by Kruisstraat 32 (Father Balinkstraat),  na Kruistraat 29 (Father Balinkstraat) wat vroeër gedeeltelik as mediese sentrum en kantore gebruik is, sal vanoggend, (Woensdag 18 Januarie) tydens ‘n virtuele verhoor aangehoor word.

Die aansoek word op verskeie gronde geopponeer.

Dié gebou waaroor die herrie gaan is in die toerisme wandellaan en ontwikkelingskorridor van Parys aangrensend tot die dorp se hoofstraat wat die toerisme-hartklop van die dorp is. Boonop is dit reg oorkant die dorp se Baptiste Kerk, die agterkant van die gebou regoor die NG Moedergemeente kerkgebou, en net enkele meters weg van nóg 7 ander kerke en verskeie skole.
In die Vrystaatse Dobbel- en Drankwet van 2010 word  pertinent deur die Drankraad uitgewys dat drankregistrasies nie binne 500m bedryf mag word van ’n plek van aanbidding of opvoedkundige instelling nie.
Nog ‘n sleutelaspek in die beswaar teen die aansoek is die Dorpsaanlegskema van 1965 wat bepaal dat die spesifieke eiendom waarvoor aansoek gedoen is, gesoneer is vir ‘spesiale besigheid’. Dit sluit in winkels, besighede, residensiële geboue en woonhuise. Daar kan wel aansoek gedoen word by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir spesiale toestemming vir besigheidsregte vir die bedryf van ‘n plek van vermaak, ‘n saal, ‘n plek van onderrig of spesiale gebou. Dié spesiale toestemming kan egter net ingevolge die SPLUMA wet van 2013 toegestaan word as geinteresseerde en geaffekteerde partye direk aangrensend tot die eiendom, ook geken is deur ‘n proses van openbare deelname om hul goedkeuring of besware te gee. ‘n Proses wat tot nou toe nog nie gevolg is nie.
Die kennisgewing vir aansoek vir die verskuiwing van die drankregistrasie is op 4 Maart 2022 in die provinsiale staatskoerant gepubliseer, maar hierin word geen melding van die kerke of opvoedkundige instellings gemaak binne die 500m afstand wat uitgewys word in die wet nie.
Ná die publikasie van die kennisgewing vir die aansoek was daar tyd tot 28 Maart 2022 om besware in te dien, en is verskeie eedsverklarings van sakelui sowel as die 8 kerke wat geraak word, en die Joyous Kids dagsorgsentrum in Dwarsstraat wat 200m van die perseel is, saam met 4 000 handtekeninge op ‘n aanlynpetisie, aan die SAPD oorhandig.
Die SAPD moes ook ‘n verslag oor die aansoek van Wintics Trading CC indien wat deur die Drankraad in aanmerking geneem moet word.
Die eedsverklarings van predikante en hul verteenwoordigers, sakelui, skole en alle ander geaffekteerdes is  ingesluit in ’n verslag wat by die Drankraad ingedien is sowel as by die plaaslike Drankraad inspekteurs.
Van die grootste besware van die publiek met wie  Gazette gepraat het oor die aansoek, was juis die gebrek aan publieke deelname voor die indien van die aansoek, en dat dit nie plaaslik geadverteer is nie, afgesien van die invloed wat dit op gevestigde sakebedrywighede in die gebied sal hê wat nie bestaanbaar sal wees sou die aansoek goedgekeur word nie. Die besighede wat hier gevestig is sluit in dokters, prokureurs, makelaars, ‘n begrafnisonderneming en banke.
Die vrees is dat goedkeuring van die aansoek ook sal bydra tot ’n toename in sosiale kwessies soos armoede en drank- en dwelmmisbruik in dié deel van die dorp.
Die vrese blyk nie ongegrond te wees met die gebou eienaar waar die taverne vantevore was, wat te kenne gegee het dat die huurkontrak vir die taverne nie hernu sal word nie omdat die taverne degraderend was vir die omgewing waar dit bedryf is, en ‘n gesondheidsrisiko geskep het.
Dit is beaam deur ander sakelui in Father Balink straat wat sê dat die taverne ’n negatiewe impak op hul besighede gehad het, bygedra het tot rommelstrooiing, sosiale kwessies, sekuriteitsprobleme en die steurnis van harde musiek.
Volgens mnr. Lou van Wyk, wat namens die kerke, skole, en meeste sakeondernemings en individue optree wat die aanlynpetisie geteken en eedsverklarings afgelê het, is daar  ‘n lang lys van oortedings teen die applikant by die perseel waar die taverne voorheen bedryf is, wat nog deur die polisie ondersoek word.
Hoewel daar ander ondernemings met soortgelyke drankregistrasies in die dorp se hoofstraat is, meen sakelui dat dié ondernemings bestaanbaar is omdat dit restaurante is wie se kliëntebasis families is, en/of drank nie op die perseel verbruik word nie.
Die verwagting is dat die saak na alle waarskynlikheid uitgestel sal word tot ‘n latere datum omdat van die individue en sakeondernemngs wat afsonderlik beswaar aangeteken het, nie betyds kennis van die verhoor gekry het nie, en derhalwe nie kon voorberei nie.

Related Articles

Back to top button