Woedende betogers wat sedert gisteraand hul frustrasie oor knaende watertekorte in die groter Parys gewys het toe begin is om bande en JoJo watertenks in die Tumahole-woonbuurt te brand, het vanmiddag ook die huis van die Ngwathe burgemeester, rdl. Victoria de Beer, se ma, afgebrand.
Die betogings het vanoggend hande uitgeruk toe daar vroeg vanoggend letterlik oral in Tumahole, Schonkenville, en Parys se middedorp en nywerheidsgebied bande en watertenks gebrand en klippe gegooi is. Die betogers het ook die R59 by die ingang na Parys vanaf Sasolburg-kant versper en is daar ook op ander paaie en toegangsroetes na die dorp klippe gepak en bande gebrand.
Skole moes inderhaas ontruim word ter wille van die kinders se veiligheid nadat betogers ook hier bande gebrand het.
Daarna isĀ na die munisipale kantore en die dorp se watersuiweringsaanleg in die dorp beweeg.
Verskeie besigheide moes hul deure sluit terwyl die betogers in die strate beweeg het.
Die betogers het waar hul gegaan het die strate vuil en bemors gelaat.