Local news

Ernstige waarskuwing: Vermy hierdie roetes, skole ontruim, paaie versper

Situasie baie gespanne tans

Ernstige waarskuwing!! Vermy die gebied rondom Basa Park, die Parys/Koppiespad wat by Schonkenville verby loop en die R59 voor die Parys Golf & Country Estate, sowel as die middedorp van Parys en ingangsroetes na die dorp ook van Vredefort-kant.

Skole word ontruim en verskeie paaie is toegepak met klippe. Oral word bande gebrand.

Gee asseblief gehoor aan die waarskuwings. Die situasie is baie gespanne.

Woede oor die knaende watertekorte in die groter Parys het reeds Sondagaand 15 Januarie breekpunt bereik en het gemeenskapslede in die Tumahole-woonbuurt begin om bande en JoJo watertenks te brand.

Daar is ‘n sterk polisie teenwoordigheid maar mense se samewerking is nou baie nodig.

Werkers is vanoggend, Maandag 16 Januarie, vroeg reeds gedreig en verhinder om uit die Tumahole-woonbuurt te beweeg, terwyl  baie skoolkinders in Schonkenville en Tumahole ook nie by skole kon uitkom nie of huis toe gestuur is. Personeel by besighede in die nywerheidsgebied kon ook vroeg vanoggend reeds nie by die werk kom nie.

Ook in Parys het die ontevrede betogers na die skole beweeg, bande gebrand en klippe gegooi, en is kinders huis toe gestuur vir veiligheid.

Die betogers is tans by die munisipale kantore in die dorp en kan motoriste ook nie in die hoofstraat beweeg nie met verkeer wat via Boomstraat herlei is.

Die betogers het ook in Oranjestraat begin beweeg en is die kruising by die Schonkenville-woonbuurt tans baie gevaarlik.

Sommige inwoners het verlede jaar April laas water gehad, terwyl ander selde ooit water het. Naas dele in Tumahole en Schonkenville wat gereeld waternood het, is ook dele in die dorp self en veral die woongedeelte in die omgewing van die Rooidam knaend sonder water.

‘n Vergadering oor die waterkrisis sou Sondag in Tumahole gehou word. Dit is nie duidelik wat die uitkoms van die vergadering was nie.

Gazette het dringende antwoorde van die munisipale bestuurder gevra oor die situasie en sal die antwoorde bygewerk word sodra dit ontvang word.

Foto’s verskaf. Ons dank aan Security Master

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button