Sally Martin gaan ouma Martie se glimlag en kwinkslae mis
Sally Martin se ouma Martie sterf op 100-jarige ouderdom
Op 100-jarige ouderdom het ouma Martie de Wet nog vertel dat niks lekkerder is as ’n drukkie van haar kleinkinders, toe Gazette haar in September 2022 op haar verjaardag besoek het.
En toe sy gevra is hoe lank sy al in Sally Martin woon, het sy met ‘n laggie geantwoord “veels té lank,” want in dié ouma van 11 kleinkinders en 30 agterkleinkinders se hart was ‘n lewenslus so aansteeklik soos haar glimlag.
Maar nou is ouma Martie se stem vir altyd stil, en gaan die inwoners van Sally Martin Park en hulle wat haar liefgehad het, daardie stralende glimlag so baie mis. Die troosdiens vir ouma Martie is Maandag 9 Januarie gehou.
Martie is in Angola as een van 11 kinders gebore. Later het sy Suidwes toe verhuis, en toe na Johannesburg waar sy as boekhouer gewerk het in die romery waar haar man bestuurder was.
In haar 100 jaar het sy baie gesien en baie beleef.
Daar was oorloë en modernisering, maar wat vir haar deur die jare die meeste uitgestaan het, was die vreugdes wat sy ervaar het. Dit kon jy hoor as sy altyd met ‘n vonkel in die oog kon vertel, “Ons was ‘n plesierige klomp wat lekker kon dans.”
Die foto hieronder is saam met haar seun geneem op haar 100ste verjaardag in September 2022 by Sally Martin Park.




