Bye kos man sy lewe
Bye kan baie agressief wees wanneer daar afgestig word sodra ‘n nes te vol raak.
‘n 28-Jarige man, mnr. Dilon Els, het tragies gesterf nadat hy Maandag, 9 Januarie op die Mooivlakte plaas in die Maryvale-distrik by Heuningspruit deur ‘n swerm bye aangeval is. Mnr Els was besig om met ‘n TLB te werk, toe die bye hom vermoedelik begin steek het, en hy na ‘n nabygeleë sementdam gehardloop het om weg te kom van die bye. Daar was min water in die dam en het die bye vermoedelik steeds aangehou om hom te steek.

Sy liggaam is Dinsdagoggend deur lede van die polisie uit die dam gehaal.
In November 2022 is ‘n vrou ook in ‘n kritieke toestand na die hospitaal gehaas toe sy langs die R549 by Deneysville deur ‘n swerm bye aangeval is waar sy besig was om die gras langs die pad te sny.
Bye kan baie agressief wees wanneer daar afgestig word sodra ‘n nes te vol raak.
Kundiges waarsku dat waneer mense byneste in hul erwe sou kry, die beste is om nie die bye te pla nie, en om hulle ook nie met plaagdoder te spuit nie. Kry iemand met die nodige kennis wat jou kan help en die beste advies sal kan gee.
Bysteek – wat om te verwag
In die meeste gevalle veroorsaak ‘n bysteek ‘n matige gelokaliseerde reaksie waar die by jou gesteek het. Jy kan swelling, rooiheid en selfs intense pyn verwag waar die by jou gesteek het. ‘n Jeukerigheid en irritasie van die vel is ook nie ongewoon nie. Dit sal egter beperk wees tot die plek waar die by jou gesteek het en kan jy die genoemde simptome dalk vir ‘n paar dae ervaar. In sommige gevalle kan ‘n matige tot he-wige allergiese reaksie wel voorkom.
Hoe gemaak as ‘n by jou steek?
* Skraap die angel onmiddellik uit met ‘n plat voorwerp om te verhoed dat die gif van die angel versprei.
* Maak die geaffekteerde deel goed skoon met warm water en seep.
* Sit ‘n yspak op om swelling en rooiheid te help voorkom. Monitor die persoon vir enige allergiese reaksie. Moenie die steekplek krap nie.
Sou jy enige van die volgende simptome na ‘n bysteek hê, kan dit dalk op ‘n ernstige allergiese reaksie dui waarvoor jy dringende mediese hulp moet kry:
* Vel wat jeuk of ‘n uitslag verder as die direkte omliggende area van die bysteek.
* Swelling rondom die oë en swelling van die tong.
* Kortasem of probleme met asemhaling,
* Braking en koue en klam vel
* Deurmekaar
(Inligting oor bysteek verskaf deur Cert-SA )





