Local news

Vandag doen ons die trippie Binnelandse Sake toe

....Job se geduld want staan gaan jy staan

So vat ons vandag die pad Binnelandse Sake toe. Vol verwagting na die SMS – die ID-kaart het gekom. Een van die eerste dinge van grootmens wat oor jou pad kom as jy die ‘sweet sixteen’ mylpaal haal.

Vroeg-vroeg val ons in die pad. Brêkfis maar gelos want die hoenders het net klaar hul oggendkraai gegee, toe sit ons al in die kar – Bothaville toe. Oral langs die pad die spatsels pers vrolikheid van dié tyd van die jaar se veldblomme.

En soos ons ry begin Pa ompad soek want ‘n deel van die R59  net so knap by Viljoenskroon lê onder die water.

So gaan ons by die silo’s verby, ompad langs, en verstaan ek vanoggend die eerste keer hoekom die gate op ons paaie slaggate genoem word. Dis ‘n slagting!

Dalk sal ‘n paar weldoeners met sakkies teer weer op ‘n dag die pad rybaar  kry, want hier jaag jy nie, sê ek vir Pa toe hy nog dink om voet neer te sit, want nou’s ons laat.

Net voor 07:00 stop ons voor Binnelandse Sake. Nommer 30 toe al in die ry…en ek sien hier kom ‘n lang dag vir my en pa. Het ons maar die vroeë brêkfis geëet, het my maag nie nou sy eie grom in die ry gemaak, so tussen die toustaners se gemor en brom.

Binnelandse Sake se kantoor in Bothaville

Maar van rye is hier ook nie veel vanoggend te sien nie. Meer soos ‘n stormloop vir ‘n Coke ‘special’. Roep hulle ‘n nommer nader, storm vyf nr 30’s gelyk vorentoe. En dit sukkel met die lees van die vanne.

Die stoele is min, ek sien staan gaan ons staan.

En dit vorder nie.

En dan die boodskapper met die tyding – Offline. Dit nou net ‘n halfuur of wat voor Eskom se offline.

En ek dink net gister lees ek van iemand se sewe ure gestaan in die ry met hul trippie Binnelandse Sake toe.

Maar wil jy glo – chaos of te not – knap na 09:30 staan ek en Pa triomferend by die kar, kaart in die hand. As ons weer vliegtuig klim, grawe ma nie weer in haar handsak vir die al voos gevatte geboortesertifikaat nie. Nou het ek ‘n ID.

Ons het dit gemaak – offline en loadshedding of te nie, sê ek vir Pa. En ons vat die pad koes-koes om die gate ompad langs huis toe.

Volgende keer bring ek die kampstoel en ‘n piekniekmandjie., want grootword is tough!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button