News

Illusie geskep deur “glasagtige water” dra moontlik by tot Vaaldam-helikopterongeluk

’n Bekende sakeman en helikoptervlieënier wat in Mei 2021 dood is toe sy helikopter in die Vaaldam neergestort het, het moontlik nie besef hoe laag hy vlieg nie, omdat ’n illusie wat deur “glasagtige water” geskep is hom moontlik die persepsie gegee het dat hy hoër vlieg as wat hy eintlik is.

So blyk dit uit die bevindinge van ’n verslag oor die vliegongeluk wat intussen deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid uitgereik is nadat die voorval ondersoek is.

Esterhuysen was die besturende direkteur van die ESGRO Groep van Maatskappye en die loods van die Robison R44 Ravel II-helikopter met registrasie ZS-RSK wat by die insident betrokke was.

Die voorval is op video vasgevang en op die video kan mens sien hoe die helikopter die water tref en dan sink.

Die helikopter met Esterhuysen, sy suster van George in die Wes-Kaap en die twee honde aan boord het omstreeks 15:03 die betrokke dag by die Rand-luggawe opgestyg en was op pad na Esterhuysen se huis in Burgundy Bay by die Vaal Marina-baai.

Die ongeluk het teen skemer plaasgevind en is omstreeks 16:24 gerapporteer.

‘n Uittreksel uit die verslag lees: “Op grond van videomateriaal het die helikopter oor kalm glasagtige waters gevlieg wat die omgewing weerspieël het. Die glasagtige waterillusie kon die vlieënier die persepsie gegee het dat hulle hoër was as wat hulle werklik was, wat veroorsaak het dat die vlieënier die hoogte verminder het, wat daartoe gelei het dat die helikopter aan die water geraak het. Dit staan bekend as ’n verlies aan dieptepersepsie terwyl jy oor kalm, glasagtige waters vlieg”

’n Aanbeveling wat in die verslag gemaak word is dat die Direkteur van Burgerlugvaart ‘n mandaat stel wat die aanbring van noodflotasie-instrumente op helikopters wat oor water werk – insluitend helikopters wat oor ’n groot massa water vlieg, lang of opstyg – verpligtend maak.

Skermskote van ‘n selfoonvideo wys hoe die ongeluk. Skermskoot: Verskaf

 

Dit blyk ook uit die verslag of die helikopter vanuit ’n noord-westerlike rigting gekom het en toe laag oor die water gevlieg het, voordat die helikopter oor die water gedraai het om reg te maak vir ‘n landing by ‘n grasagtige landingsplek tussen die dam en die huise.

Volgens ‘n verklaring van een van Esterhuysen se huisgaste wat tydens die voorval by Esterhuysen se huis was het Esterhuysen ongeveer drie minute voor die insident ‘n selfoonoprep gemaak en versoek dat ‘n soeklig wat op die hoogste punt van die huis gemonteer was aangeskakel word om die landingsplek teen skemer te  verlig.

Die lig is toe aangeskakel soos versoek.

Die Robison R44 Ravel II-helikopter met registrasie ZS-RSK wat by die insident betrokke was. Foto: Verskaf

Dit blyk uit beeldmateriaal of daar nie fout met die enjin was nie. Die water in die baai was kalm en glasig en het die omgewing weerspieël.

Op die video kan mens sien hoe die helikopter na die wateroppervlak daal terwyl dit na die landingsplek draai. Dan tref die tuig die wateroppervlak, gevolg deur ‘n helder vonk en ‘n harde slag.

Die lyke van Esterhuysen en sy suster is op die aand van die ongeluk gevind.

Die lyk van Esterhuysen se suster is deur vissermanne wat aan die westekant van die baai gekamp het – ongeveer 150 van waar die helikopter geval het – gevind.

Esterhuysen se lyk is later deur polisiedeukers gevind, ongeveer 9.13m onder die water.

Die beskadigde helikopter nadat dit uit die Vaaldam gehaal is. Foto: Verskaf

Die helikoper is die volgende dag (15 Mei 2021) in die selfde omgewing waar Esterhuysen se liggaam gevind is gevind.

Een van die honde (die Kleiner hond) is op die vloer van die helikopter gevind, aan die regterkant naby die regterkantste agtersitplek.

Die tweede hond (die groter een), sowel as Esterhuysen se selfoon is op 19 Mei (vier dae na die ongeluk) gevind.

Mnr. Essie Esterhuysen wat in 2021 dood is toe sy helikopter in die Vaaldam neergestort het.
Die roete wat die helikopter op die betrokke dag gevolg het. Foto: Verskaf
Die helikopter word na die ongeluk aan wal gebring. Foto: Verskafhttps://vaalweekblad.com/152580/illusie-geskep-deur-glasagtige-water-dra-moontlik-by-tot-vaaldam-helikopterontgeluk/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button