Local news

Jy sal die Mimosa Tuine nie ken nie!

Oord uiteindelik weer oop

Veertien mense en net 4 daae – en jy sal die verskil wat gemaak is in die Mimosa Tuine nie glo nie.!

Al die gras is gesny, die terrein skoongemaak, toilette ingesit, braaigeriewe reggemaak, die speelparkie skoon en netjies, en selfs die kleiner swembad kan weer gebruik word. Ook die verwaarloosde en geplunderde restaurant is binne skoongemaak nadat haweloses vir lank hul intrek hier geneem het en selfs vuur gemaak is in die gebou.

Die inisiatief om weer die eens gewilde vakansieoord in Parys toganklik vir die publiek te kry, is geneem deur die Ngwathe burgemeester, rdl. Victoria de Beer wat met die hulp van twee raadslede, rdl. Modise (wyk 7) en rdl. Tyumbu (wyk 13), saam met vrywilligers uit die gemeenskap na Kersfees begin het om die oord van ‘n kant af skoon te maak.

Geen munisipale werkers of munisipale fondse is gebruik vir die projek nie, het die burgemeester bevestig, Die projek is moontlik gemaak danksy mense uit die gemeenskap wat hulp aangebied het, en die afgelope week baie hard en sonder vergoeding hier gewerk het om skoon te maak met toerusting wat deur die munisipaliteit beskikbaar gestel is vir die sny van die gras en snoei van die bome. Sy het veral groot dank vir die Parys Golf & Country Estate se Huiseienaarsvereniging wat ook op eie inisiatief gratis hulp en leiding gegee het om die swembaddens weer reg te kry sodat dit gebruik kan word.

Die burgemeester saam met die twee raadslede wat verantwoordelik was vir die projek by die Mimosa Tuine. 

 

Hoewel die glybaan nog nie nou gebruik kan word nie omdat daar nog gewerk gedoen moet word, sal ook dit in die nabye toekoms weer toeganklik wees vir die publiek. Die swembad by die glybaan sou na verwagting ook teen laatmiddag reg wees.

Die groot swembad wat vroeër jare deur die dorp se swemklub gebruik is en waar gereeld gala geswem is, sal vroeg in 2023 aandag kry, het die burgemeester gesê.

Die chalets kan egter nog nie gebruik word as akkommodasie fasiliteite nie, omdat daar nog heelwat werk nodig is.

Die Mimosa Tuine sal voortaan daagliks oop wees vir die publiek wat gratis van die fasiliteite gebruik kan maak. Families kan hier kom swem, braai, hengel en die pragtige grasperke geniet. Daar sal vir nuwejaar ook beamptes en ‘n lewensredder aan diens wees om orde te handhaaf, terwyl ook die polisie ‘n wakende oog sal hou het die burgemeester en raadslede gesê.

Die oopstel van die Mimosa Tuine is wyd verwelkom na daar veral weer op Kersdag chaos was by die ingang na die Parys Golf & Country Estate waar  mense gereeld op die grasperke kuier, maar  geen ablusiegeriewe beskikbaar is nie. Die lawaai en rommelstrooi op die rivieroewer waar baie besoekers aan die dorp beweeg, het vir lank  vir groot frustrasie gesorg van veral  huis- en gastehuiseienaar in die omgewing van die hangbrug- en laagwaterbrug.

Toe die Mimosa Tuine destyds deur die munisipaliteit gesluit is vir die publiek, het ook hengelaars wat gereeld lyn natmaak in die rivier vir ‘n lewe, sleg aan die kortste end getrek en moes ook hulle skiellik ander heenkome soek. Die oord het oor jare erg verwaarloos.

Selfs die erg verwaarloosde en geplunderde restaurantgebou is binne skoongemaak. Haweloses het vroeër hul intrek in die gebou geneem. 

Al die grasperke is gesny en bome gesnoei. 

Die burgemeester en raadslede wat betrokke was by die projek het ‘n ernstige beroep op die gemeenskap gedoen om die fasiliteit wat nou skoon en netjies is, op te pas en skoon te hou en met verantwoordelikheid te gebruik. Hulle sê ook dat hulle enige kennis, hulp  en vaardighede uit die gemeenskap wat aangebied sou word om te help om die oord weer tot sy ou glorie te kan herstel, verwelkom.

  • Die burgemeester het ook bevestig dat die aankoop van ‘n noodkragopwekker by Parys se watersuiweringsaanleg reeds goedgekeur is, en dat tenderprosesse vroeg in die nuwe jaar sal begin vir die installering van ‘n noodkragopwekker. Tans staan die suiweringsaanleg telkens wanneer daar ‘n kragonderbreking is.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button