NewsNews

Kragkrisis in ysige koue

Te midde van snerpende koue en nat weersomstandighede in Parys die afgelope naweek, het Parysenaars Saterdagmiddag knap voor 19:00 eers weer elektrisiteit gehad, ná instandhoudingswerk wat vroeër die middag gedoen is. Maar die vreugde was van korte duur. Vroeg Sondagoggend het groot dele van die dorp weer sonder krag gesit. Teen Maandagoggend was daar steeds ’n gedeelte van die dorp sonder krag.

Te midde van snerpende koue en nat weersomstandighede in Parys die afgelope naweek, het Parysenaars Saterdagmiddag knap  voor 19:00 eers weer elektrisiteit gehad, ná instandhoudingswerk wat vroeër die middag gedoen is. Maar die vreugde was van korte duur. Vroeg Sondagoggend het groot dele van die dorp weer sonder krag gesit.
Teen Maandagoggend was daar steeds ’n gedeelte van die dorp sonder krag.
Die munisipaliteit het aanvanklik kennis gegee dat instandhoudingswerk Saterdagmiddag vanaf 13:00 by die hoofsubstasie gedoen sou word waar dringende werk nodig was ná ’n ontploffing verlede jaar by dié substasie. Volgens die munisipaliteit het die kragverbruik ook drasties verlede week toegeneem en is saam met Eskom besluit op die dringende herstel op voerkabels om die groter elektrisiteitsvraag van die winter te kan hanteer.
Die beplanning was om die kragtoevoer beter te balanseer tussen die twee gedeeltes van die substasie. Ou infrastruktuur en die koue wat ’n skielike drasties verhoogde elektrisiteitsverbruik tot gevolg gehad het, het veroorsaak dat ’n  kabel gebrand het en daar Sondagoggend weer teruggeskakel moes word na hoe dit was voor die herstelwerk.
Maar bo en behalwe die kragkrisis is oorhoofse elektriese kabel ook nog Sondagaand op twee plekke in die dorp gesteel en was daar Saterdagoggend by nagenoeg drie ringkaste skade weens die nat weer.
Wat inwoners die warmste onder die kraag gemaak het, was die munisipaliteit se oënskynlik gebrekkige kommunikasie om inwoners op hoogte te hou van wat met die krag aan die gang was. Besighede het duisende verloor, eers as gevolg van die beplande kragonderbreking en toe die Sondag weer. Dis veral die restaurant- en gasvryheidsbedryf wat die swaarste getref is. Ander besighede, veral kleiner ondernemings sonder kragopwekkers in die sentrale sakekern moes al Saterdagoggend hul deure sluit. Sommige besighede met wie Gazette gepraat het was ontevrede omdat hulle nie vroegtydig met gedrukte kennisgewings of ’n oproep van Saterdag se onderbreking in kennis gestel is nie. Hoewel kennisgewings oor die onderbreking wyd op sosiale media versprei is, het klaarblyklik nie almal dit raakgelees nie.
Dié wat geweet het, het voorsiening gemaak vir ’n  plan B en was gerat vir die kragonderbreking soos Plum Tree. Volgens Sandra Uys, eienares van die restaurant, het beurtkrag hulle geleer om altyd met ’n  alternatiewe plan reg te wees en het hulle in die lig van die kragonderbreking vir instandhouding in Vredefort die Sondag, ook reggemaak vir sou daar Sondag probleme wees.
EnStyle is egter een van die besighede wat reeds aangedui het dat hulle regsaksie gaan neem weens die verliese wat gely is as gevolg van die kragonderbreking. Dié restaurant het besprekings gehad vir onder meer  ’n 90ste verjaardag.
Van die gastehuise waarmee gepraat is het ook aangedui dat mense ongelukkig was oor die kragsituasie en gaste maar moes soek na restaurante wat wel etes en koffie kon bedien tydens die kragonderbrekings.
In die dorp self het nagenoeg 200 kinders van verskeie Voortrekkerkommando’s by Parys Primêre skool gekamp met uitdagings van sy eie, maar planne is gemaak om die koue en kragonderbrekings te trotseer.
Daar sou na wat verneem is Maandagoggend met die munisipale bestuurder vergader word om die erns van die kragkrisis te bespreek, want met die naweek se skade, is baie dringende werk teen groot koste na wat verneem is, nou dringend nodig om ’n krisis soos die naweek gesien is, af te weer. Die munisipaliteit het sy verskoning aangebied vir die kragchaos van die naweek.

Related Articles

Back to top button