Local news

Toekenning span die kroon vir sussies op 17 jaar se harde werk

Oor die toekenning sê die sussies dat dit nie op 'n beter tyd kon kom nie.

Met van skaapkop tot herderspastei op die spyskaart, en ‘n Vintage dekor-tema wat jou ver laat terugdink, trek Plum Tree in Parys se hoofstraat, besoekers van heinde en ver na dié restaurant.
Benewens die spyskaart met sy verskei -denheid van heerlike tradisionele gunstelinge uit ouma se kombuis, is dit die diens wat jou weer en weer laat terugkom. Dit is juis hierdie ingesteldheid om elke kliënt – of dit vroegoggend of laatmiddag is, spesiaal te laat voel, wat raakgesien is toe dié restaurant die afgelope week beloon is as ‘n finalis van die Restaurant Association of South Africa (RASA) se Rosetta Awards of Excellence.
Plum Tree is uit die nominasies van regoor die land aangewys as een van net 10 finaliste in die kategorie vir diens.
‘n Toekenning wat vir Sandra Uys en haar sus, Hantie Lourens, wat vennote in die onderneming is, die kroon span op 17 jaar se harde werk en toewyding.
Maar sê Sandra – niks hiervan sou moontlik wees sonder ons lojale span wat vir jare saam met ons werk. “Wat deur moeilike tye lojaal gebly het, saam vasgebyt en saam swaar gekry het. Dit is net ‘n dankbaarheid wat ons het teenoor elkeen van hulle,” gesels sy
Die groot eer wat die restaurant te beurt geval het, het gekom nadat Sandra een middag 17:00 op pad was na ‘n vergadering. Die restaurantdeure was reeds gesluit en die personeel op pad huis toe.
“Toe kom ‘n vrou oor die pad gestap en loer deur die vensters.”
“Ons het by ons die veronderstelling – as daar ‘n kliënt kom en jou deure is toe – dan help jy,” sê Sandra.
“Sy vra toe om ‘n bietjie rond te kyk in die restaurant, en groet met die instap elke personeellid met die hand. Sy wou weet wat Covid aan ons gedoen het. En ons raak aan die gesels. Met die uitstap stel sy haarself voor – Wendy Alberts, uitvoerende direkteur van RASA”.
Later sou Sandra hoor dat die restaurant toe reeds genomineer was, en Wendy en haar span op ‘n “road trip” was om die genomineerde restaurante te besoek.

 

Sonder hierdie lojale span personeel sou dié toekenning net nie moontlik wees nie, sê Sandra en Hantie wat vennote in die onderneming is. Inlasfoto: Hantie Lourens en Sandra Uys met die toekenning wat hulle vir Plum Tree ontvang het as finalis in die diens-kategorie van vanjaar se RASA Rosetta Awards of Excellence.

Hantie Lourens en Sandra Uys met die toekenning wat hulle ir Plum Tree ontvang het as finalis in die diens-kategorie van vanjaar se RASA Rosetta Awards of Excellence

Die storie van Plum Tree
Sandra het die restaurant in 2005 as ‘n koffiewinkel van die Van Sandwyks gekoop. Vir drie jaar het sy die besigheid alleen bedryf, en toe haar sus, Hantie, as vennoot by haar aansluit, het dié twee sussies saam-saam skouer aan die wiel gesit.
So het die koffiewinkel ‘n volwaardige restaurant geword en het 42 sitplekke gegroei tot 145 sitplekke.
Daar moes ook groot besluite geneem word, want omdat daar soveel restaurante in Parys is wat dieselfde bied, moes hul koppe bymekaar sit om iets te doen wat hul restaurant uniek sou maak.
Die Vintage dekor-tema met kosbare onthou-goed uit ouma se huis, het hul laat besluit om ‘n tradisionele rigting in te slaan om ook die ou gunstelinge uit ouma se kombuis op die spyskaart te sit. Van herderspastei tot hoenderpote, beesstert en skaapkop wat vandag nog van die restaurant se gewildste items op die spyskaart is.
Dit was jare van groei maar ook jare met groot uitdagings, vertel Sandra. In 2008 het die land gesteier midde van ‘n resessie en baie besighede, ook restaurante, het hul deure gesluit. In 2018 was daar ‘n volgende resessie en teen middel 2018 was die gevolge hiervan baie duidelik met al minder besoekers ook vir Parys wat heeltemal aangewese is op die toerismebedryf.
In 2019 was die druk op die ekonomie selfs nog erger gevoel deur die restaurantwese. En toe kom die Covid-19 pandemie. Lang en onseker maande van inperking.
Klandisie het met 40% afgeneem. Weer moes koppe bymekaar gesit en planne gemaak word. ‘n Nuwe rigting ingeslaan word.
Maar dié sussies en hul raakvat-span het vasgebyt, innoverend gedink, en besluit om tafels minder te maak, en ‘n deel van die restaurant in ‘n koop-en-loop winkel te omskep. Rakke is ingesit en heelwat tuigemaakte produkte ingebring. Daar is steeds 110 sitplekke in die restaurant, maar die besluit om tuisgemaakte produkte in te bring, was ‘n wenner.
“Ons beste advertensie is wat mense oor ons restaurant vertel.”
Oor die toekenning sê die sussies dat dit nie op ‘n beter tyd kon kom nie. “Na 17 jaar se elke dag spook en spartel, elke dag se streng wees, seker maak die kos is vinnig gereed, tafels skoon en dat alles reg gebeur, voel jy tog jy’t iets reg gedoen.”
Uitdagings is daar steeds, sê hulle, met hoë brandstof- en kospryse, en voortdurende krag- en wateronderbrekings, maar niks kry hul onder nie, want dié sussies en hul personeel ken van saamwerk en saamstaan wat ouma vandag trots sou maak op wat hier gedoen word.
* Die ander finaliste in die diens-kategorie naas Plum Tree was Red Rugby Restaurant, Peri Peri Frango’s, The Ivy Champagne Garden, Jozi Rooftop, Lejit Lekker, Orange Restaurant, Beef Boy’s Grill, Dorp to Pub en Safari Restaurant. Lejit Lekker is uiteindelik as wenner aangewys.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button