Bejaardes se allermooiste goed vir kleingoed
Elkeen van hierdie artikels is met baie liefde gebrei of gehekel, en speelgoed met die hand gemaak.

Bejaardes van Sally Martin Park het vanjaar weer nie minder nie as 330 kom-berse, handgemaakte speelgoed, truie, serpe, toiletsakkies en meer gemaak met hul Kindervreugde-projek wat weer glimlaggies op talle kindergesiggies sal sit. Dit is selfs meer artikels as wat verlede jaar gemaak is, danksy die bejaardes se vindingrykheid en ywer.
Vyf en twintig bejaardes van Sally Martin Park het deelgeneem, terwyl ‘n paar skenkings ook ontvang is. Elkeen van hierdie artikels is met baie liefde gebrei of gehekel, en speelgoed met die hand gemaak.
Die meeste artikels is weer vanjaar gemaak deur Cathy du Plessis wat 57 artikels tot die projek bygedra het. Die mooiste artikel is gemaak deur Magda Marais, terwyl Annatjie Deysel die oorspronklikste artikel gemaak het. Die wenners is aangekondig na afloop van ‘n uitstalling van die pragtige en kreatiewe handwerk, wat nou aan instansies in Parys, asook in Vredefort geskenk sal word.

Links is Cathy du Plessis wat vanjaar weer die meeste items vir die Kinder- vreugde-projek gemaak het. Regs is Annatjie Deysel met haar prag handewerk wat aangewys is as die oorspronklikste item. Voor is die kombers wat as mooi- ste item aangewys is, en gemaak is deur Magda Marais.








