Local news

Bejaarde man in sy tuin oorval en ernstig beseer

Waardevollle antieke eetstel gesteel - hou asseblief jou oë oop sou daar gepoog word om dit te verkoop

‘n Bejaarde man van Parys, die 89-jarige mnr. Daniël Labuschagne, is steeds in die Lenmed-hospitaal waar hy geopereer sal moet word om die skade aan sy wangbene te herstel nadat hy Dinsdagoggend helder oordag in sy tuin in Steynstraat,  oorval en ernstig aangerand is. Dit is nog nie seker wat die omvang van die skade aan sy oog is wat  ook tydens die aanval beseer is.

Volgens mnr. Labuschagne se seun, Coenie, was sy pa die oggend in die tuin besig om te skoffel. Hy het net skiellik die slag gevoel toe sy twee aanvallers hom met ‘n onbekende voorwerp geslaan het. Hy is daarna in een van die kamers inforseer waar hy vasgebind en ‘n kombers oor hom gegooi is.

Sy aanvallers het soos ‘n orkaan deur die huis beweeg en alles uit die kaste en laaie gegooi. Selfs sy medikasie is uitgegooi.

Die twee verdagtes het te voet gevlug met onder meer sleutels, geld, juweliersware en ook ‘n baie waardevolle antieke silwer eetstel wat die enigste in die land is en ‘n erfstuk afkomstig van ‘n keiserlike familie van Duitsland.

Mnr. Labuschagne het alleen in die huis gewoon en het gereeld in sy tuin gewerk.

Sy erf was omhein en sy hek toe. Sy aanvallers het vermoedelik oor die heining geklim om toegang tot die erf te kry, en het ook die hekslot gebreek.

Na die aanval kon mnr Labuschagne na ‘n lang gesukkel uiteindelik homself loswoel en het hy die paniekknoppie van sy sekuriteitsmaatskappy gedruk om hulp te ontbied.

Hulle was met die skryf van hierdie berig steeds op vrye voet.

Asseblief wees uiters waaksaam veral nou oor die feestyd wanneer misdaad gewoonlik skerp styg. Hou jou deure gesluit en wees bedag op enige verdagte bewegings of voertuie in jou omgewing. Wees betrokke in jou buurt. Ken jou bure en maak bemoeienis met hulle sodat jy weet wanneer daar iets nie pluis sou wees nie. 

‘n Ernstige en dringende beroep word ook op alle skroothandelaars, tweedehandse handelaars en antieke winkels gedoen om op die uitkyk te wees sou daar gepoog word om hierdie eetstel te verkoop. Skakel asseblief kapt. Gert Bruwer by 082 466 8094 of die speurder op bystand by 082 554 3041 sou jy enige inligting hê of daar gepoog word om van die gesteelde ware aan jou te verkoop. 

Die vurk is deel van die waardevolle antieke silwer eetstel wat gesteel is, en is deur die verdagtes laat val

 

Related Articles

Back to top button