
Jett, die geliefde Belgiese herdershond wat vroeër na ‘n bootongeluk op die Vaalrivier help soek het na die vermiste staffie, Jan, het die naweek in ‘n mangat in die Hartebeesspruit in Kilnerpark, Pretoria geval en is steeds soek.
Sy eienaar, Diane Logie, het saam met hom in die mangat geval toe daar na ‘n Jack Russel-hondjie gesoek is. Sy kon egter uitgehelp word, maar die soektog na Jett wat ‘n uitstekende snuffelhond is, sal vandag, Maandag 28 November, hervat word. Talle mense is aangegryp deur die verpletterede nuus oor Jett, en het reeds hulp aangebied om te help soek.
Jett het op 19 November ook mense oor die land se harte geraak toe hy help soek het na die rooibruin Staffie, Jan, wat saam met ‘n groep mense in ‘n skiboot deur ‘n sluis oor die keerwal by die Barrage getuimel het. Daar kon daarin geslaag word om die ses mense uit die rivier te red, maar na ‘n weeklange soektog na Jan is sy oorskot die naweek uiteindelik gevind.
Met die grootste deernis het ‘n egpaar van Lapa Manzi Saterdag 26 November, uiteindelik berusting kon gee vir die eienaar van Jan, toe hulle sy leibandjie vir sy eienaar kon teruggee. Die egpaar het Jan se lyfie in die rivier sien dryf en dadelik na die berigte oor die soektog na Jan besef dat dit hy moes wees. Hulle het op Facebook begin rondvra in ‘n poging om sy eienaar te kry sodat hulle minstens sy halsbandjie aan sy eienaar kon gee.
‘n Baie hartseer Monica de Jager het aan Gazette vertel. “Aanvanklik het ons gedink dit is ‘n houtstomp omdat daar so baie boomtakke, stompe en opdrifsels in die rivier afgekom het met die vloed. Ek het die verkyker gegryp en gesien dit is ‘n hond. My man, Bertie, het na hom gery met die boot, want hy was oortuig dit is Jan. ”
Met die grootste deernis het die egpaar Jan se halsbandjie afgehaal, dit skoongewas en met ‘n Facebook-plasing van die halsbandjie daarin geslaag om Jan se eienaar op te spoor.



