Local news

Hemelse klanke laat kerk uit sy nate bars

Ongelooflike Kersuitvoering in Vredefort gehoor

Wyl die natuur sy eie simfonie-klank teen die kerkruite laat hoor het, het ‘n hemelse klank vanaand (Saterdag 26 November), die NG kerkgebou in Vredefort gevul., en dit volgemaak soos die voete wat  aanhou inkom  en  inskuif het in die  stampvol kerkbanke – wagtend vir die  koor- en solostemme wat jaar na jaar mense na die Deo Gloria-koor se  Klassieke Kersuitvoering laat stroom.

Maar as jy nog nie vantevore die koor se Kersfeeskonserte in Vredefort bygewoon het nie, sukkel jy om in woorde die ongelooflike  luisterryke belewenis weer te gee – want jy moet dit hoor!  ‘n Onbeskryflike voorreg om soveel  uitstaande talent hier in die hart van die Vrystaat in ‘n klein plattelandse dorpie te kan hoor.

Reg van die begin met die  akkoorde in die regterhand, ondersteun deur vinnige linkerhand lopies in die openingstema van  orrelmeester, pianis en klavierdosent Johan Cromhout, wat weeklink het deur die aandstilte op Vredefort se beroemde driemanuaal orrel, tot die deurgaanse meesterlike begeleiding van die Johannesburg Music Initiative (JMI) was dit ‘n musikale reis.

‘n Pluimpie vir Erna Rademan en Marli Kruger onder wie se bekwame hande die Deo Gloria-koor staan vir die program saamgestel uit van klassieke koortreffers soos Puer Concinite, tot tradisionele werke soos Oh Come, oh come Emmanuel,, en hedendaagse gunstelinge soos When you believe uit The Prince of Egypt. Vele ander bekende en geliefde kerslidere wat die koor en soliste gesing het, het jou meegevoer van begin tot die einde van die program.

Die uitsonderlike uitvoering van Nesun Dorma, deur wêreldklas-tenoor Stefan Louw, die besondere stem van liriese-sopraan Marguerite van Wyk,  en soliste Gabriella Oelofse, Werner van Coller en Corniël Calitz saam met die koor het telkens gesorg vir uitstaande vertolkings.

‘n Aand wat sonder twyfel ‘n belewenis was wat jou opnuut  gevul het met die vrede van Kersfees.

Related Articles

Back to top button