
Die drie mans wat verdink word van die moord op James Nkosana Mzimanga, sal weer volgende week, op Vrydag 2 Desember voor die landdroshof in Parys verskyn
Borg is vroeër toegestaan aan Ernest Olivier en Brandon Douglas, terwyl Andries Jordaan, steeds in aanhouding is nadat sy aansoek om borg vroeër deur die hof geweier is. Die klagte teen die mans spruit uit ‘n voorval toe Mzimanga en sy broer, Zackariah, op 22 Julie na bewering by ‘n plaaslike skrootmetaal handelaar was.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Josephine Rani, het daar ‘n argument tussen die mans en Jordaan ontstaan. oor die verkoop van skrootmetaal.
Sers. Rani sê Nkosana is toe na bewering aangerand waarop hy geval en sy kop gestamp het wat hom sy bewussyn laat verloor het. Zackariah het nie daarna sy broer weer gesien nie, sê sers. Rani. Zakariah het op 25 Julie sy broer as vermis by die Parys SAPD aangemeld.
Jordaan is op 1 September in hegtenis geneem.
Tot dusver is Nkosana se liggaam nog nie gevind nie, en het ‘n vroeëre soektog na sy liggaam by ‘n oord in die Vaalrivier ook niks opgelewer nie.





