News

Ai tog Charlize … kyk nou al die memes!

Bekroonde aktrise Charlize Theron het dit waarskynlik nie letterlik bedoel toe sy gesê het dat net 44 mense nog Afrikaans praat nie, maar net soos mens nie aan iemand se geld vat nie, so sleep jy ook nie ons Moedertaal deur die modder nie.

Nie alle tale is wêreldtale nie, maar dit maak dit nie minder geliefd onder die mense wat dit praat nie. Sosiale media het gegons na Charlize Theron se uitlatings oor Afrikaans tydens ‘n onderhoud op ‘n potgooikanaal (podcast).

Sy het ook gesê dat Afrikaans aan die uitsterf is en dat sy glo nooit terwyl sy in Suid-Afrika grootgeword het, Engels gepraat het nie. Sy het eers glo geleer Engels praat nadat sy en haar ma hulle in die VSA gevestig het. Charlize was toe 19 jaar oud.

Danksy al die uitlatings word daar nou lekker met haar gek geskeer – hier is van die memes wat op sosiale media gedeel is.

Die VF Plus het egter op ‘n meer ernstige noot in ‘n mediaverklaring gesê dat hulle, net soos ander Suid-Afrikaners trots is op dit wat Charlize Theron as internasionale aktrise vermag het. Veral haar verowering van ʼn Oscar vir beste aktrise in die rolprent Monster.

“Haar jongste uitsprake oor haar moedertaal Afrikaans, dat net 44 mense die taal nog praat, maak dit egter duidelik dat sy nie op hoogte is met wat in haar geboorteland aangaan nie. Die VF Plus sal haar graag wil reghelp”.

Die party vermoed selfs dat meer mense in Charlize se tuisdorp, Benoni, Afrikaans praat as enige ander taal.

Hier is die feite soos weergegee deur Statistieke Suid-Afrika se 2019 Algemene Huishoudelike Peiling oor die gewildste en grootste tale in Suid-Afrika (afrikaans.com).

Die statistiek word gegrond op die tale wat die meeste binne en buite die huis gepraat word, insluitende skole en die werkomgewing.

  • Nommer 1: 25,3% mense praat Zoeloe tuis.
  • Nommer 2: 14, 8% mense praat Xhosa tuis.
  • Nommer 3: 12,2% praat Afrikaans tuis.

Engels neem met 8,1% ʼn beskeie sesde plek in as huistaal.

Die feit dat soveel mense Engels as omgangstaal buite die huis gebruik, is vanweë ʼn institusionele taal-dwangbuis wat die ANC-regering geskep het om ʼn uitheemse taal te probeer verhef tot die algemene spreektaal van alle Suid-Afrikaners.

Ná bykans 30 jaar lyk dit egter of die Engelse perd nie goed doen met sy sesde plek nie.

Dit is ook duidelik dat elke moedertaal in Suid-Afrika geliefd deur haar gebruikers gekoester word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button