Editor's noteNewsNews

Ngwathe-probleem veel groter as Eskom-krisis

Die Ngwathe munisipaliteit se finansiële state is só kommerwekkend dat dit ondenkbaar is dat die provinsiale en nasionale regering nog nie op plaaslike regeringsvlak hier ingegryp het om die munisipaliteit se bestuur en finansies daadwerklik reg te ruk nie.

Die Ngwathe munisipaliteit se finansiële state is só kommerwekkend dat dit ondenkbaar is dat die provinsiale en nasionale regering nog nie op plaaslike regeringsvlak hier ingegryp het om die munisipaliteit se bestuur en finansies daadwerklik reg te ruk nie.

Die krisis is so groot dat daar maandeliks beswaarlik genoeg inkomste is om salarisse te betaal en aankope te doen, laat staan nog rekeningverpligtinge na te kom en agterstallige skulde te betaal. Dit beteken dat die meer as R3m wat aan Eskom verskuldig is, maar net ’n deel is van die enorme Ngwathe skuldberg met geen hoop op afbetaling.

Die donker prentjie is verlede Woensdag deur verskeie sprekers wat Ngwathe se finansiële state onder oë gehad het, geskets tydens ’n openbare vergadering oor Eskom se voorneme om vanaf 5 Junie daagliks 8 ure geskeduleerde beurtkrag in al die Ngwathe dorpe op weeksdae toe te pas, en oor naweke 6 ure. Die ergste is dat die skuldpenarie sedert 2008 net groter en groter geword het, met geen ingryping om die situasie drasties om te keer nie. Trouens, die ouditeur-generaal het reeds in sy verslag verlede jaar beskryf hoe die prentjie selfs met sogenaamde kundiges se inmenging verlede jaar net verder versleg het.

Die vergadering wat deur die Parys Ontwikkelingsforum byeen geroep is, en ook deur verteenwoordigers van die Afrikaanse Handelsinstituut bygewoon is, is nie deur nie ’n enkele amptenaar van die Ngwathe munisipaliteit bygewoon nie. Daar was ook geen verteenwoordiger van Eskom nie.
Prokureur Lou van Wyk het namens die Forum aan die vergadering verduidelik watter regspad die afgelope 4 jaar geloop is om Ngwathe tot verantwoording te roep vir sy gebrekkige dienslewering en onvermoë om die munisipaliteit finansieel te kan bestuur. Ten spyte van die hof se bepaling dat ’n taakspan aangestel moes word om ’n omkeerstrategie vir Ngwathe in werking te stel, was die munisipale bestuurder vir Ngwathe, mnr. Lucky Kamolane, sedert November verlede jaar nog nie by een van die taakspan se vergaderings nie, is gesê. Boonop het die ouditeursfirma wat deel moes wees van die taakspan ook onttrek en is daar ook nog nie ’n finansiële regrukplan op die tafel nie.

Intussen loop die uurglas vinnig leeg vir Ngwathe, en het Van Wyk tereg opgemerk dat as die probleem nie op grondvlak vasgevat word nie, geen hofbevel gaan werk nie.

Tydens die vergadering is gesê dat Eskom geregtig is om te doen waarvoor daar kennis gegee is, hoewel die elektrisiteitsverskaffer aan sekere konstitusionele vereistes moet voldoen.

Die AHI en die Forum het beide gesê dat alles moontlik gedoen word om die daaglikse beurtkragkrisis af te weer met onderhandelinge op hoë vlak, maar die feit bly staan dat hoewel geglo word dat Eskom die kennisgewing gebruik om druk op wanbetalende munisipaliteite uit te oefen vir afbetalingsooreenkomste, daar tot op datum nog geen aanvaarde ooreenkoms met Eskom vir Ngwathe is nie.

Ook nie enige hoop dat Ngwathe die geld bymekaar sal kan skraap nie. Laat staan nog maandeliks sy huidige Eskom-verpligting nakom, is gesê. En selfs al sou daar op hoë vlak ingegryp word om Ngwathe met sy skuldlas te help, kan die munisipaliteit lankal nie meer ’n doeltreffende diens aan inwoners lewer nie, en ook nie voldoende instandhouding doen nie.

Met gebrugde meters, kragkoeponne wat verkoop word sonder dat dit iewers op die munisipale stelsel wys, onproduktiewe munisipale werkers, swak rekeningadministrasie en invordering van uitstaande dienstegelde, of selfs die politieke wil om die munisipaliteit doeltreffend te bestuur, bly dit ’n saak van absolute onmoontlikheid vir Ngwathe om sy geldsake reg te ruk.

Inwoners is by die vergadering aangeraai om voorsiening te maak vir kragalternatiewe en houers vir water, want sou die krag daagliks vir 8 ure af wees, sit Parys nie net met ’n waterkrisis en rioolwerke wat nie ten volle kan funksioneer nie, maar is dit ook te wagte dat die swak onderhoude kragnetwerk probleme sal gee en dat besighede werknemers sal moet aflê en sommige selfs hul deure sal moet sluit.

Related Articles

Back to top button