News

Mark vir varsprodukte herleef vir dorp se inwoners

Hier in Die Dorpstuin in Boomstraat was dit Saterdag die ene voete, want vir die eerste keer is daar kontrei- mark gehou. Benewens organiese groente- en kruie, was varsprodukte met heerlike gebak en gebottel te koop, en was die koel reënweer en die goed versorgde tuin ‘n wenresep vir ‘n lekker Saterdagoggend uitstappie. Gerda Jones …

Hier in Die Dorpstuin in Boomstraat was dit Saterdag die ene voete, want vir die eerste keer is daar kontrei- mark gehou. Benewens organiese groente- en kruie, was varsprodukte met heerlike gebak en gebottel te koop, en was die koel reënweer en die goed versorgde tuin ‘n wenresep vir ‘n lekker Saterdagoggend uitstappie.

Gerda Jones op wie se inisiatief die mark begin is, vertel dat sy die behoefte aan ‘n varsprodukte mark raakgesien het toe sy verlede jaar gedurende die Covid-grendelmaande vrugte uit die Kaap gekry en verkoop het. Met die vrugteverkopery het sy heelwat plaaslike inwoners teëgekom wat nog vrugtebome in hul tuine het. Baie wou van hul oorskot vrugte ontslae raak. So het die gedagte aan ‘n kontreimark by haar opgekom, en het sy begin voelers uitsteek na Leida Schuman op wie se grond Die Dorpstuin is.

Na die sukses van Saterdag se mark word nou beplan om die Kontreimark vanjaar elke tweede Saterdag tot en met 16 Desember te hou.

So is boere destyds gehelp om hul varsprodukte te verkoop:

Die gedagte om ‘n afsetpunt vir varsprodukte in die dorp te skep, is geen nuutjie vir Parys nie. Vir byna ‘n halfeeu was die De Ponte’s Vrugtestal langs Parys se hoofstraat deel van die dorp se geskiedenis.  Of jy nou koers sou kies Vredefort se kant toe, of die dorp sou inry van Vredefort-kant af – ‘n stop by De Ponte’s Vrugtestal was altyd die moeite werd. Selfs bekendes soos wyle Tolla van der Merwe en David Kramer het in die verbygaan daar ingeloer.

Dit was destyds een van die grootste groente- en vrugtehandelaars in die dorp. Veral toe die dorp nog nie ‘n verskeidenheid van kettingwinkels met vrugte- en groente-afdelings gehad het nie. In Maart 2020 toe die huurkontrak met die Ngwathe munisipaliteit op wie se grond die padstal staan, geëindig het, is besluit dat die tyd gekom het om die padstal se deure te sluit, het Paulo de Ponte, wat sedert sy standerd ses-dae in die padstal gewerk het, aan Gazette vertel.

De Ponte’s het ontstaan uit die destydse stadsklerk, Joop Ferreira, en die munisipale raad se inisiatief om stalletjies op die munisipale grond te bou wat boere die geleentheid sou gee om oor naweke hul varsprodukte hier te verkoop. So is ses stalletjies opgerig wat aan boere verhuur is. Gabriël de Ponte en ander vennote het op daardie stadium De Pontes Fish & Chips in die dorp gehad, en toe hy sy aandeel verkoop het, het hy een van die stalletjies gehuur en begin om van die groente wat hy op sy kleinhoewe gekweek het, daar te verkoop. Een stalletjie het twee geword, en later drie, totdat hy uiteindelik die munisipaliteit die aanbod gemaak het dat hy al die stalletjies sou oor-neem soos wat die ander huurders se kontrakte verstryk het. Met die hulp van Fred Campbell is ‘n deel van die stalletjies oopgebreek en toegebou. Vandag is die eens spog padstal egter net ‘n bouval.

Meer oor Die Dorpstuin:

Die tuin is in private besit en is min of meer dieselfde tyd begin as die roostonnels van die Flower Project in Allenbystraat. William Mokoena is deesdae die man wat dié onderneming op sy eie bestuur. Nie net versorg hy die groente- en kruietuin nie, maar is hy die een wat kontrole hou oor die saailinge wat gekry moet word, en is dit ook hy wat kliënte se bestellings neem en verpak.

Die Dorpstuin is oop Maandae tot Vrydae 08:30 tot 16:30. Leida Schuman vertel dat die gedagte aan ‘n organiese groentetuin begin het toe sy besef het dat pleks van om telkens die groot oop stuk grond in die middel van die dorp te ontbos, dit veel beter benut kon word. Ilze Botha het die tuin ontwerp en Cara Bakkes het dit help uitbrei.

Slim tuinmaak tegnieke is gebruik om seker te maak dat die beddings beter water hou, en minder vatplek vir onkruid het. Die dorpstuin is altyd geïnteresseerd in plaaslike entrepreneurs met groen vingers wat aan hulle saailinge kan verskaf. Dit hou die waardeketting plaaslik. Maak gerus ‘n draai by Boomstraat 29 as jy kan help.

Die Dorpstuin ontvang ook graag droë blare vir kompos, asook kartondose wat hulle in die paadjies plaas vir onkruidbeheer. Mense wat varsprodukte het om te verkoop kan Gerda skakel by 082 8735 705. |

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button