Allegretto Eisteddfod beloon sy interprovinsiale uitblinkers op die verhoog
Baie geluk aan hierdie leerders
Uitstaande talent in die kunste is die afgelope naweek tydens die interprovinsiale gala-toekenningsgeleentheid vir die Allegretto Eisteddfod beloon. Deelnemers van die Oos-Vrystaat, Noord-Vrystaat, Gauteng-Oos, Gauteng-Wes, Noordwes en die Vaaldriehoek het die geleentheid bygewoon.
Die deelnemers het vroeër vanjaar aan die onderskeie streeksuitdunne deelgeneem. Tydens die naweek se toekenningsgeleentheid is ook medaljes en trofeë aan die onderskeie interprovinsiale item-wenners en afdeling-wenners oorhandig. Die uitblinkers in die onderskeie kategorieë is na afloop van die geleentheid genooi na die nasionale gala-geleentheid wat 5 November by Hoërskool Bekker gehou word.
Twee leerders van Hoërskool Parys, Kayla Jardim en Megan Daniel, het uitnodigings na die nasionale gala-geleenheid gekry. Kayla het vir een van haar items onder die top 10 geëindig, terwyl Megan as die beste programaankondiger vir die geleentheid aangewys is.


Reuben de Jager, Melanie Jooste, Carli de Jager en Mieke Small, almal leerders van Parys Primêre skool, het die naweek se interprovinsiale toekenningsgeleentheid bygewoon waar Reuben en Carli beide erkenning gekry het as item-wenners wat onder die top 10 geëindig het. Carli is ook as nasionale ambassadeur vir 2023 aangewys. Beide Reuben en Carli is na die nasionale gala-geleentheid genooi.

Miané Roux, ‘n tuisskoolleerder, kon spog met ‘n medalje vir een van haar items wat onder die top 10 in die provinsie was en die trofee as afdeling-wenner. Sy dring ook deur na die nasionale gala-geleentheid waar sy haar item sal opvoer.

Nog ‘n tuisskoolleerder, Ewan Stoltz, was die interprovinsiale item-wenner in die kategorie vir Dramatized Poetry. Hy ontvang ook die trofee as afdeling-wenner vir Dramatized Poetry, en was onder die top 10 in twee kategorieë waaraan hy deelgeneem het. Hy behaal die uitmuntende prestasie om ‘n dubbele uitnodiging na die nasionale gala-geleentheid te ontvang.

Allegretto is ‘n nasionale inisiatief wat eisteddfod-uitdunne in al die provinsies hou. Leerders neem aan verskeie kategorieë deel, waaronder drama alle genres, ‘n model-kategorie, musiek en sang alle genres, visuele geletterdheid alle genres en dans alle genres, sê Marius Lourens, self ook ‘n oud-Parysenaar en uitvoerende hoof van die Allegretto Eisteddfod.
Inskrywings vir 2023 open in Februarie met uitdunne wat regdeur die jaar gehou word. Deelnemers skryf aanlyn in by www.allegretto-eisteddfod.co.za



