News

Jou tiener en sosialemediagebruik. ‘n Ander soort verslawing?

Wat moet ouers doen as hulle bekommerd is oor hulle tieners se selfoongedrag?

 

 

 

Vir baie ouers is hulle kinders se sosialemediagebruik ’n kopseer, en is hulle nie altyd seker hoe om die situasie te bestuur nie – wat is te veel, te dikwels? Wanneer moet ‘n mens begin bekommerd raak? Hoe hanteer ‘n mens dit, want wees nou maar eerlik, ‘n tiener hou nie daarvan om in die bek geruk te word nie, veral nie wanneer dit by daardie toestel in hulle hande kom nie. Tog, dit is juis sosiale media wat die meeste druk op jongmense plaas.

 

Karla Jonker sê in ’n artikel op Maroela Media (Augustus 2021) dat die eens “onskuldige” platform waar inligting, stories en idees gedeel kon word, deesdae nie heeltemal so voordelig is nie, en “vir Generasie Z is dit nie aldag so fantasties nie”. Volgens Karla skep sosiale media die “illusie van ’n perfekte lewe” en om die soort foto’s en so meer te deel, is nie verkeerd nie, wat wel problematies is, is “die vergelyking wat op persoonlike vlak en op ander sosialemediabladsye op grond van die inhoud daarvan gemaak word”. Karla skryf voorts wat die uitwerking van hierdie “perfekte lewens” op sommige mense se selfbeeld het, veral as hulle op daardie stadium dalk swaar trek. “Dit gaan nie oor jaloesie nie, ook nie altyd oor jou eie omstandighede nie. Dit gaan slegs oor vergelyking. En al voel ‘n mens nie altyd goed nadat jy op ‘n sosialemediaplatform was nie, sal niemand egter durf waag om daarsonder te leef nie. Ons is maar aan nuuskierigheid en die gevoel om aan iets te behoort, verslaaf.” Aldus Karla.

 

Tegnologie is deel van die moderne samelewing

 

Oor die algemeen besef ouers dat die hedendaagse toegang tot tegnologie en die gebruik daarvan, deel is van die moderne samelewing en dat hulle kinders grootword daarmee. Trouens, dit is feitlik onvermydelik en het natuurlik talle voordele. Wat wel problematies is, is die sosiale media wat daarmee gepaardgaan. Weereens, sosiale media het ’n legio voordele, maar indien dit nie met omsigtigheid gebruik word nie, kan dit talle negatiewe gevolge inhou. Die meeste ouers is dit dus eens dat daar beheer moet wees en ouers moet hulself vergewis van hul kinders se gebruik.

 

Hou ook in gedagte, kuberboeliery is ‘n realiteit en nie alle ouers is bedag op wat hulle kinders rondstuur nie. Daarom behoort daar veral vir die jonger gebruikers beperkinge op die gebruik van hulle fone te wees. Ouers moet bedag wees op hul kind se reaksie wanneer daar met maats gekommunikeer word.

 

Skending van privaatheid?

 

Of dit aanvaarbaar is om na jou kind se boodskappe te kyk sonder hulle medewete, is natuurlik ‘n heel ander kwessie. Weereens is daar nie ‘n klinkklare antwoord nie. Doen ‘n ouer dit, kan dit die indruk skep dat die kind of tiener nie vertrou word nie. ‘n Mens maak inbreuk op die tiener se privaatheid, wat natuurlik tot onnodige konfrontasie kan lei. Die sielkundige Louis Awerbach en Lise Swart (RSG-program “Wie is ek?”- 2013), noem in die program dat ouers dikwels kla omdat dit voorkom asof die tieners konstant op hulle selfone besig is. Awerbach wys eerstens daarop dat tenologie kommunikasie baie verander het. Waar ons voorheen mekaar gebel het en briefies rondgestuur het, gebruik vandag se tieners bloot ander metodes en is selfone een so ‘n metode van kommunikasie. Awerbach sê egter dat “tegnologiese kommunikasie sosiale ‘afgestompdheid’ tot gevolg kan hê as dit as enigste manier van kommunikasie gebruik word”. Natuurlik kry diegene met slegte bedoelinge ook makliker toegang tot tieners – dit sluit kuberboeliery in.

 

Wat moet ouers doen as hulle bekommerd is oor hulle tieners se selfoongedrag?

 

Volgens Awerbach is opvoeding in die verband noodsaaklik. “Die antwoord lê in die vormingsjare en dat die tiener teen dan voorbereid moet wees om enige vorm van kommunikasie te leer hanteer.” Volgens Awerbach het ouers wel die reg om reëls in die gebruik van tegnologie (veral selfone) toe te pas. Byvoorbeeld dat selfone nie tydens etenstyd of gesinsgesprekke gebruik mag word nie. Ook dat selfoonkommunikasie ingeperk word as straf – hoewel Awerbach maan dat dit slegs by uitsondering moet geskied. Of ouers dit nou wil weet of nie, hulle tieners vind nog hulle voete sosiaal en “deesdae is die tegnologie die manier hoe hulle dit doen”.

Of ouers die reg het om te weet wat op hulle tieners se selfone aangaan, is natuurlik ’n netelige saak. Awerbach sê dat daar uiteenlopende menings hieroor is. Hy voel sterk daaroor dat ouers nie hulle “reg moet gebruik om op hulle kinders se selfone te kyk nie. Daar is natuurlik uitsonderings, maar tieners het tog ’n reg op privaatheid.” ‘n Mens moet jou tiener vertrou en as jy voel dat jy dit nie kan doen nie, lê die probleem dalk juis by ‘n gebrek aan kommunikasie en opvoeding. “Spioenasie om die tiener uit te vang, kan dit waarskynlik net erger maak.” Aldus Louis Awerbach.

Onthou egter: Respekteer jou tiener se privaatheid, maar luister gerus na jou sesde sintuig as iets jou pla t.o.v. jou kind se sosialemediagedrag.

 

Goed en sleg

 

Tegnologie is darem nie net ‘n euwel nie en met die regte leiding en toesig kan dit bydra tot ons tieners se kennis, hulle politieke en sosiale bewustheid, interpersoonlike verhoudings, hulle kritiese denke aanwakker en kreatiwiteit stimuleer en sekere vaardighede verbeter.

 

Dat te veel skermtyd veral vir ons jonger kinders nadelig kan wees, is natuurlik ook waar en taalontwikkeling, leesvermoë, korttermyngeheue, en die vermoë om te konsentreer en aandag te gee, kan onder andere geraak word. Dikwels is ‘n kind buierig omdat hy aan sensoriese oorlading blootgestel word. Die impak op gesondheid weens ‘n onaktiewe leefstyl kan ook ter sprake kom. Steur die tiener of kind homself te veel aan ander se menings, kan dit lei tot ‘n gebrek aan selfvertroue, ’n negatiewe selfbeeld en sosiale welstand, asook sielkundige probleme soos depressie.

 

Die slotsom? Wees bedag op die gevare en nadele en hoe dit jou kind kan raak, maar bemagtig jouself terselfdertyd sodat jy met insig kan besluit hoe om jou kind se sosialemedia- en tegnologiese gebruik tot sy voordeel te bestuur.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button