NewsNews

Slangbyt: Nagmerrie in Namibië

VANDERBIJLPARK. – Die Namibiese vakansie waarna ‘n Vanderbijlparkse gesin lank uitgesien het, het oornag in ‘n nagmerrie ontaard toe die sewejarige Ruan van Aarde deur ‘n giftige slang onder sy linkeroog gepik is.

VANDERBIJLPARK. – Die Namibiese vakansie waarna ‘n Vanderbijlparkse gesin lank uitgesien het, het oornag in ‘n nagmerrie ontaard toe die sewejarige Ruan van Aarde deur ‘n giftige slang onder sy linkeroog gepik is.
Die Van Aardes – pa Rudi, ma Marna en Ruan – het Paas-Vrydag saam met nog familielede by ‘n lodge in die Namibiese dorpie Khorixas oornag, toe Ruan sy ma omstreeks 01:30 die oggend wakker gemaak en gekla het dat albei sy oë vreeslik brand.

'n Illustrasiefoto van die gevaarlike sebra-kobra wat Ruan van Aarde in Namibië gepik het. Foto: Internet - David Nixon

“Ek het gedink daar het ‘n gogga in sy oog beland en het dit met kraanwater uitgespoel.
Ek kon sien hy het steeds baie seer en is na sy kamer om die ‘gogga’ te soek sodat ons kon vasstel wat hom gebyt het. Ek het eers sy kussings opgelig maar niks gesien nie. Toe ek die duvet oplig, het ek met skok die yslike slang van 1.62 meter gesien,” vertel Marna.
Sy het dadelik haar man Rudi en broer, Attie Roesch, geroep om die slang te kom doodmaak. “Die slang was baie aggressief en het na alle kante toe probeer spoeg en pik. Gelukkig kon die mans hom uiteindelik met ‘n grafie agter die nek beetkry en doodsteek.
Hulle het met Ruan en die dooie slang na Khorixas se hospitaaltjie gejaag, waar inspuitings toegedien is en Ruan per ambulans na die Rooms-Katolieke hospitaal in Windhoek oorgeplaas is.
Daar het vyf dokters wat almal kenners op hul gebied is – van ‘n “slangspesialis” en ‘n oogspesialis tot ‘n plastiese chirurg – die Van Aardes bygestaan. Ruan is met sy aankoms dadelik in die hoësorg-eenheid opgeneem.
Die slang is intussen geïdentifiseer as ‘n baie gevaarlike uitgegroeide sebra-kobra. Dié soort slange kom net in dele van Namibië en die suide van Angola voor.
Ruan moes sowat tien dae in die hospitaal bly. Hoewel albei sy oë deur die gif aangetas is, lyk dit asof daar geen permanente skade aan sy sig is nie. Die wond onder sy linkeroog gaan egter baie stadig herstel omdat die slanggif nekrose veroorsaak. Ruan moes sedert die voorval reeds tien operasies ondergaan, hoofsaaklik om dooie weefsel weg te sny.
Hy het ook reeds ‘n veloorplanting op die wond ondergaan. Dit sal eers op 4 Mei, wanneer die drukkussinkie op die wond verwyder mag word, bekend wees of die operasie geslaagd was.
“Ons is baie dankbaar teenoor ons mediese fonds, Discovery International SOS, wat heeltyd in verbinding met ons en die dokters was en my en Ruan ook laat terugvlieg het Suid-Afrika toe,” sê Marna.
Hulle bedank ook die groot aantal Vaaldriehoekse inwoners vir al hul gebede en boodskappe. “Ons is nog baie bekommerd oor Ruan, maar ons is so dankbaar vir al die genade wat ons reeds ontvang het,” sê Marna.

Related Articles

Back to top button