News

Knobbeleend: ’n Besondere waarneming vir die Vredefort Koepel

Dit was dus ‘n besondere waarneming en sal ook aan BirdLife South Africa gerapporteer word.

Met die Feathers-voëlklub se September -uitstappie, is nie minder nie as 46 voëlspesies aangeteken tydens die groep se besoek by die dam op die plaas Schulpspruit in die Vredefort-distrik. Daar was seker ‘n paar honderd voëls, insluitende Kolganse, Geelbek-eende, Kleindobbertjies, Kaapse Knobbel-eende, Wildemakoue en vele ander, vertel een van die klublede, Hansie Bekker.
Die groot verrassing van die dag was egter die Knobbeleende wat aangeteken is. Dit was beslis ‘n eerste waarneming van die Knobbeleende vir ‘n hele paar van die 12 mense wat daar was. By wyer navraag blyk dit dat dit die eerste keer is wat die Knobbeleende hier in die Koepel en die omgewing aangeteken is.
Na elke uitstappie stel Feathers ‘n lys saam van voëls wat die dag waargeneem is.
Die lyste vanaf 2014 is nagegaan en daar is geen Knobbeleende aangeteken nie. Jan Fourie, wat jare lank gids in die Vredefort Koepel was en wat sy voëls ken, het ook bevestig dat hy die Knobbeleende nog nooit hier gesien het nie.
Klublede het ook twee lyste van voëls in die Koepel en omgewing wat deur Stoffel de Jager en Nollie Meiring, voormalige inwoners en voëlkykers van Parys opgestel is. Nollie se waarnemings was van 1939 tot 1983. Nie een van hierdie lyste het ‘n verwysing na die Knobbeleende nie.
Johan Lötter van Vredefort het die afgelope 10 jaar meer as 300 voëlspesies in die omgewing gefotografeer en hy het ook nie die Knobbeleende in sy omswerwinge raakgeloop nie.
Dit was dus ‘n besondere waarneming en sal ook aan BirdLife South Africa gerapporteer word.
Feathers in Oktober 2022
Feathers se volgende byeenkoms is op Donderdag, 27 Oktober om 18:30 by Sally Martin Park se saal. By die geleentheid sal Guan en Anansa Dreyer hul foto’s wys en bietjie daaroor gesels. Almal wat belangstel in ons voëls is welkom om die geleentheid by te woon.
Meer inligting oor die Oktober-uitstappie wat beplan word by ‘n plaas op die Viljoenskroon-pad, sal tydens die byeenkoms op 27 Oktober gegee word. Belangstellende wat die uitstappie wil meemaak sal op Saterdag, 29 Oktober om 06:00 vanaf PnP se parkeerterrein vertrek.
Wat het jy nodig as jy wil saam gaan?
Net jou piekniekmandjie, ‘n verkyker en ‘n stoel.
Vir meer inligting oor Feathers en sy aktiwiteite kan Hansie Bekkerby (056 811 4754 / 082 820 4306) of Peter Killian by 083 625 8100 geskakel word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button