NewsNews

SANCA waarsku oor langtermyngevolge van dagga

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad teen Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca) het onlangs ‘n waarskuwing uitgereik oor die langtermyngevolge van dagga.

VANDERBIJLPARK. – Die voortgesette gebruik van dagga kan oor die langtermyn ’n persoon se risiko vir skisofrenie of psigotiese episodes verhoog, veral in mense wat ’n genetiese geneigdheid tot geestestoestande het, en kan ook tot ’n afname in kognitiewe funksionering ly.

Só waarsku Adrie Vermeulen, nasionale koördineerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad teen Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca).

Adrie Vermeulen, Sanca se nasionale koördineerder, waarsku oor die gevare van dagga tydens die organisasie se algemene jaarvergadering wat op 5 Oktober 2022 by die NG Kerk Vanderbijlpark Sentraal gehou is. Foto: Verskaf

Vermeulen het verlede Woensdag (5 Oktober 2022) tydens SANCA Vaaldriehoek se algemene jaarvergadering by die NG Kerk Vanderbijlpark Sentraal gepraat oor die gevare wat die dwelmmiddel vir Suid-Afrikaners en die jeug van die land inhou.

Sanca is ’n nie-regeringsorganisasie wat betrokke is by die voorkoming van dwelm en alkoholmisbruik sowel as die behandeling van alkohol- en dwelmafhanklikheid.

Die organisasie se Vaaldriehoek tak is in 1962 gestig en word vanjaar 60.

Mark Paxton (links), voorsitter van Sanca se beheerraad in die Vaaldriehoek, saam met Magriet Botha (middel), direkteur van Sanca se Vaaldriehoek-tak en Adrie Vermeulen (regs), Sanca se nasionale koördineerder, tydens die organisasie se algemene jaarvergadering wat op 5 Oktober 2022 by die NG Kerk Vanderbijlpark Sentraal gehou is. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Vermeulenis is daar talle nadele wat direk aan die gebruik van dagga gekoppel kan word.

Die gebruik van die middel kan die ontwikkeling van kinders en tieners se ontwikkeling striem, kan ook bydra tot chroniese brongitis, verslegte longfunksie en die risiko van beroerte en kardiovaskulêre probleme.

Die gebruik van dagga tydens swangerskap kan ook die breinontwikkeling van die fetus nadelig raak.

Volgens Vermeulen was daar gedurende die tydperk tussen 1 April 2021 en 31 Maart 2022 ’n beduidende toename in dagga-gebruikers wat vir behandeling by Sanca aangeklop het – veral jonger mense.

“Op 34% was dagga die mees algemeenste dwelmmiddel onder verslaafdes en 17% van die pasiënte wat vir dagga-verslawing behandel is was onder die ouderdom van 18,” vertel sy.
Sanca het ook ’n interne studie op 711 mense gedurende 2019 en 2022 gedoen wat die aanname dat dagga skadeloos is bevraagteken.

Altesaam 35% van die dagga-gebruikers wat behandel is vir verslawing was tussen die ouderdomme van 4 en 17.

Die blare van ’n daggaplant. Die blare word uitgedroog en fyngemaal en gerook. Foto: Christiaan Cloete

Altesaam 65 van dié gebruikers het dagga as ’n sogenaamde “gateway”-dwelm (’n dwelm wat tot die gebruik van ander, meer skadelike dwelmmiddels lei) beskryf.

Vermeulen sê dagga bly steeds die dwelmmiddel wat die meeste gebruik word, met 28% van dwelm-gebruikers wat behandeling by Sanca se 31 fasiliteite landwyd vir hul verslawing aan dié dwelmmiddel ontvang het.

Die gebruik van dagga is aan die toeneem onder die jeug.

Altesaam 53% van hierdie mense het dagga saam met ander gevaarliker dwelmmiddels gebruik.
Dit is veral die gebruik van dagga saam met Mandrax wat kommer wek.

In vorige jaar was daar ’n 6% toename in mense wat die sogenaamde “wit pyp” (’n mengsel van dagga, mandrax) rook en 11% van die pasiënte wat behandel is het dagga met heroïen gemeng.

Die studie het ook getoon dat 71% van die pasiënte gesondheidsprobleme weens hul gereelde gebruk van dagga ontwikkel het.

Volgens Vermeulen versterk hierdie studie die standpunt dat dagga verslawend en gewoontevormende is.

Sanca is van mening dat dagga wel ’n skadelike dwelmmiddel is wat gewoontevormend is en probeer bewusmaking oor die gevare daarvan skep om mense se persepsies te verander dat dit ’n “veilige” middel is.

Die organisasie is bekommerd oor die toename in pasiënte wat vir hulp kom aanklop het na 2018 en veral die toename in kinders wat deesdae die middel gebruik.

Sanca is van mening dat dagga wel ’n skadelike dwelmmiddel is wat gewoontevormend is en probeer bewusmaking oor die gevare daarvan skep om mense se persepsies te verander dat dit ’n “veilige” middel is. Foto: Christiaan Cloete

 

Related Articles

Back to top button