EntertainmentNewsNews

Kilometers ver vir hoop vir ander

Op 13-jarige ouderdom het Paul Steyn sy regterbeen onder die knie verloor nadat sy voet onder ’n bossiekapper by ’n landbouskool in Coligny beland het. As jong aktiewe seun het dié traumatiese ervaring hom baie negatief geraak. Skielik moes hy heelwat aanpassings aan sy lewe maak.

Op 13-jarige ouderdom het Paul Steyn sy regterbeen onder die knie verloor nadat sy voet onder ’n bossiekapper by ’n landbouskool in Coligny beland het. As jong aktiewe seun het dié traumatiese ervaring hom baie negatief geraak. Skielik moes hy heelwat aanpassings aan sy lewe maak.

Maar vandag is hierdie groot terugslag wat hy as jong kind beleef het, juis sy inspirasie om op 28-jarige ouderdom ander mense te help wat ledemate verloor het en nie ’n prostese kan bekostig nie. Sy storie inspireer en bring hoop vir baie waar hy by skole, kerke en hospitale gesels oor die uitdagings wat jy kan oorkom met geloof en hoop.

Paul het sedert hy die Paul Steyn Foundation in 2011 begin het, reeds 5 000km ver gestap om nege mense te help met prostese ledemate regoor die land. Hierdie week het hy weer te voet die staptog na Stilfontein aangepak waar hy Woensdag vir die 33-jarige Annemarie Erasmus ’n prostese sou oorhandig. Annemarie is ’n diabeet wat reeds op 18 haar sig verloor het, en verlede jaar ook haar been. Met ’n prostese sal sy met die hulp van haar gidshond baie meer onafhanklik kan wees.

Die staptog wat Paul vandeesweek aangepak het staan bekend as die “Vaal to Vaal” en strek oor 115km van Parys na Orkney via Potchefstroom. Tydens hierdie tog sal hy ook by sy alma mater skole in Potchefstroom en Klerksdorp aandoen waar hy sy positiewe uitkyk op die lewe sal deel. Paul se betrokkenheid by die gemeenskap het ná skool begin terwyl hy studeer het aan die Boland Kollege in Worcester. Terwyl hy tussendeur met die filmbedryf kennis gemaak het en ingestaan het vir spesiale effekte in films soos “Vloeksteen”, “Long walk to Freedom” en “Black Sales” om maar ’n paar te noem, het hy die Paul Steyn Foundation gestig en begin stap om ander te help wat ledemate verloor het en nie prostese kan bekostig nie. Waar hy stap nooi hy mense om saam te loop en probeer hy fondse bymekaar maak vir sy projek. Wanneer hy nie besig is met ’n projek nie, stap hy gemiddeld 5 tot 10km daagliks om in oefening te bly.

Só het hy eers van Montagu na die V&A Waterfront in Kaapstad gestap. Toe van Port Elizabeth na die V&A Waterfront, en later het ook die Weskus gevolg, en selfs ’n 97km stap met krukke van Wellington na die V&A Waterfront in Kaapstad verlede jaar om die fokus te plaas op die uitdagings van mense wat ledemate verloor het.

Middel Augustus vanjaar wil hy van Kaapstad na Durban stap. Die staptog sal as dokumentêre reeks oor 13 episodes verfilm word deur Imagenheart met regisseur Desmon Denton. Paul se oogmerk is om mense te help wat nie mediese fondse het nie, of die vooruitsig van ’n uitbetaling van die Padongelukfonds nie. Veral kinders is hoog op sy prioriteitslys. Mense wat graag ’n bydrae wil maak om Paul te help om ander te help, kan ’n bydrae tot hierdie geregistreerde nie-winsgewende organisasie maak met die volgende bankbesonderhede: Paul Steyn Foundation, FNB rekeningsnommer 62326196294, takkode 250655.

Vir navrae kan mense e-pos stuur na info@paulsteunfoundation.org.za of skakel 079 912 7467. Volg hom ook op Facebook waar hy besig is om te stap en Vrydag sy staptog in Orkney sal voltooi.

Die Vaal tot Vaal stap word deur die Tlokwe Munisipaliteit en AganangFM ondersteun.

Related Articles

Back to top button