News

Baie vrae oor grondwater

Grondwaterkwaliteit word bepaal deur die geologie en moontlike besoedelingsbronne.

Knaende waternood en onlangse kommer oor die kwaliteit van Parys se munisipale drinkwater het baie mense gedwing om te begin kyk na grondwater as moontlike oplossing. Sommiges het bestaande boorgate wat weens onsekerheid nie gebruik word nie, en ander oorweeg om nuut te laat boor.
Daar is egter baie onbeantwoorde vrae rondom Parys se grondwater wat my noop om uit my ondervinding as grondwaterkonsultant en inwoner van Parys te skryf.
Waar kry ek water?
Kom ons kyk eers na die tipes grondwaterbronne of akwifere, wat gaan bepaal óf, en waar jy in Parys gaan grondwater kry.
Daar is hoofsaaklik drie tipes akwifere, waarvan slegs twee in Parys geld:
 Primêr. Dis water wat in los sand en verweerde grond bo-op harde gesteentes voorkom.
 Sekondêr. Dis water wat in nate en krake in harde gesteentes voorkom.
Ter illustrasie, verbeel jou jy het ‘n reghoekige swembad en jy pak die onderste helfte netjies dig vol bakstene om harde rots te verteenwoordig.
Dan gooi jy ‘n mengsel van gruis en sand bo-op om die verweerde rots en oppervlaksande te verteenwoordig. As dit reën, perkoleer die water deur die sand en baksteenkrake en versadig die swembad van onder af.
Die water tussen die baksteenkrake verteenwoordig die sekondêre akwifeer en die water tussen die sandgruis die primêre akwifeer.
Parys se bodemrots is die bekende Parys graniet wat slegs op ‘n paar plekke dagsoom, veral langs die rivier.
Skoon grondwater kom in die graniet voor, maar jy moet ‘n breuk raakboor wat die water in die boorgat laat invloei. Omdat die frakture in graniet nie so voorspelbaar is soos in ‘n hoop bakstene nie, bly ‘n boorgat ‘n berekende risiko.
Jy kan ‘n fraktuur op enige diepte raakboor of niks kry nie.
Die fout wat baie maak is om te vlak te stop.
In meer as een geval het ek vir mense die raad gegee wat reeds diep geboor het sonder sukses, om nog dieper te gaan in plaas van ‘n tweede gat op dieselfde erf, en hulle het wel water gekry – selfs dieper as 100m.
Die beloning van skoon volhoubare grondwater is egter die risiko werd.
Die grootste deel van Parys, veral die westedorp het ‘n dik (tot 20m) primêre of sandakwifeer bo-op die graniet waar water amper gewaarborg is.
Die watervlak wissel tussen 3 en 10m, só jy kan basies enige plek boor waar die bodemrots dieper as dit lê, en jy sal water kry.
Die kuns is om die sand uit die nuwe gat te hou, en daarom sny die boorman kepe in die voering wat die water deurlaat en die sand uithou. Soms word klipgruis langs die voering ingewerk om die sand verder uit te filtreer.
Baie van die ou gate het agter al oor die jare ingeval of vol sand getrek soos die voering roes, of nie diep genoeg in die onderliggende graniet gesteek is nie.
Soms maak mense die fout om ‘n té sterk pomp in te sit wat dan juis die insuig van sand aanhelp.
Sit eerder ‘n kleiner pomp in en hou net jou tenk vol waaruit jy met ‘n groter drukpomp genoeg druk in jou huis se pype kan skep.
Is die water skoon?
Grondwaterkwaliteit word bepaal deur die geologie en moontlike besoedelingsbronne.
Waar die granietwater as ‘n reël skoon is (behalwe vir ‘n hoër kalkinhoud), het die boonste sandwater gereeld ‘n hoë ysterinhoud wat lei tot rooi ystervlekke teen huise en mure weens besproeiing. Ek het selfs my wit bakkie met boorgatwater afgespuit en na ‘n hele ruk agtergekom my bakkie is nie meer so wit nie! Dis egter moontlik om die water te behandel vir huishoudelike gebruik.
Mense hoef ook nie bekommerd te wees oor besoedeling van Parys se grondwater nie, al is dit langs die besoedelde Vaalrivier geleë.
Die grondwatervlakke in Parys is bo die riviervlak, en voed dus die rivier, eerder as andersom. Selfs gate in die graniet langs die rivier trek hulle water diep uit frakture wat uit ‘n baie wyer area gevoed word.
Ek sou wel gate rondom die Rooidam waar rioolwater gereeld invloei, laat toets voor gebruik.
As ‘n reël is grondwater ‘n baie skoner en meer volhoubare waterbron, en ek sou enigeen aanmoedig wat dit kan bekostig om te boor.
Die eerste vraag is gewoonlik, waar? My antwoord aan alle dorpsinwoners is “boor waar die boortrok inpas”.
Jy het nie besproeiingswater nodig nie, en selfs ‘n paar honderd liter per uur is genoeg om ‘n groot tenk vol te hou.
Mense kan my gerus by 083 204 4674. kontak met enige vrae of interessante boorgatstories.

Related Articles

Back to top button