Oud-Valie in Eskom se nuwe raad ingesluit
Oudleerling van Genl Smuth High School behaal groot hoogtes
VEREENIGING. – Eskom se pasaangestelde nuwe raad het Saterdag, 1 Oktober, amptelik onder leiding van die nuwe voorsitter, Mpho Makwana, begin funksioneer.
Onder die nuwe raadslede is mnr. Clive le Roux, ‘n oud-Valie wat as een van die sterkste tegniese lede van die nuwe raad beskou word.
Hy word ook as een van die mees ervare sleutelpersone in die raad beskou, wat na oplossings moet help soek om die land se toenemende kragkrisis hok te slaan.
Le Roux het sy skoolloopbaan in Vereeniging deurloop, waar hy in 1969 aan Genl. Smuts High School gematrikuleer het. Hy het sy BSc-graad in Ingenieurswese in 1973 aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi.
Le Roux was gedurende sy loopbaan by Eskom onder andere bestuurder van die Koeberg-kernkragstasie sowel as van die Matimba-kragstasie. Hy is later bevorder tot hoofbestuurder van Eskom se kernprogramme. Na sy aftrede het hy vir sowat tien jaar konsultasiewerk in sy vakgebied gedoen.
Verskeie oudleerlinge van Genl. Smuts High School het die afgelope dae hul tevredenheid en trots op Facebook uitgespreek dat ‘n ou skoolmaat en oudinwoner van Vereeniging in so ‘n prestige raad opgeneem is.
Personeel van Eskom wat deur die jare onder Le Roux gewerk het, beskryf hom as ‘n briljante kernwetenskaplike. Morné Botha is een van die oudpersoneellede wat meen Le Roux se insluiting was ‘n uitstekende keuse. “Hy was jare gelede ons kragstasiebestuurder en het Matimba destyds na groot hoogtes geneem,” sê hy. Nog ‘n oudpersoneellid, Ivan Pretorius, beskryf Le Roux as ‘n “yster met ‘n olifant se geheue”.



