As die ‘fossiele’ op die gholfbaan aantree, wys hul selfs die jonges ’n ding of twee
Hier op die gholfbaan word dominee, professor, werktuigkundige, ingenieur, tandarts, bankamptenaar en politikus gereduseer tot een, sê die groep.

Elke Dinsdag tree dié fossiele op die gholfbaan aan. Hul ouderdomme wissel van 60 tot 87, maar dié groep wat hulself ‘Die Fossiele’ noem, laat nie toe dat ouderdom hulle weghou van ‘n genotvolle dag se gholf nie.
Verlede week het die 80-jarige Roland Flade met die trofee weggestap.

Ds. Graham Oehley het skoonskip gemaak met naaste aan die pen op twee van die gate. By beide gate was ds. Graham se houe so naby aan die pen soos ‘demit’ aan ‘n vloekwoord, skerts sy spelmaats.
“Wanneer ons na die spel huiswaarts keer, het selfs die 87-jarige Richardt Evans nog ‘n huppel in die stap,” sê hulle. En elke tweede week is daar ‘n bederf geskenkbewys van die 1919 Restaurant wat aan die wenner geskenk word.
As jy bo 60 is en gholf geniet, kom sluit aan by die groep en geniet die herinneringe van weleer.
“Ons leef in tye wat groot uitdagings aan ons stel, maar ‘n oggend saam met geesgenote maak dit die moeite werd.
Hier op die gholfbaan word dominee, professor, werktuigkundige, ingenieur, tandarts, bankamptenaar en politikus gereduseer tot een, sê die groep.




