NewsNews

‘Ek het my ore per ongeluk uitgeleen’ sê pa

Koen van Aswegen (54), sy seuns, JR (23), en Nikolai (18), en Dawid Kuyler (19), sal eers op 23 Mei weet wat hul vonnis is vir die moord op sakeman Craig Marx, en roof met verswarende omstandighede. Al vier is vroeër al deur die hof skuldig bevind.

Koen van Aswegen (54), sy seuns, JR  (23),  en Nikolai (18), en Dawid Kuyler (19), sal eers op 23 Mei weet wat hul vonnis is vir die moord op sakeman Craig Marx, en roof met verswarende omstandighede. Al vier is  vroeër al deur die hof skuldig bevind.
Waarnemende regter Lani Opperman het Dinsdagoggend gesê dat vonnisoplegging een van die moeilikste take van die hof is omdat mense se lewens op die spel is. “Die gemeenskap van Parys verdien meer as net ’n  vinnige vonnis,” het sy gesê toe sy gevra het om uitstel vir vonnisoplegging sodat  korrektiewe verslae van Koen en JR verkry kan word wat eers oor ’n  maand beskikbaar sal wees.
Terwyl die swaard van vonnisoplegging oor die vier hang, is Maandag ter strafversagting deur ’n  onderwyser van Hoërskool Wonderfontein in Carletonville, Eben Moller, getuig hoe Nikolai kaptein van beide die skool se eerste rugby- en krieketspanne is, in die leerlingraad dien en ook ’n  akademiese toppresteerder van sy skool is.
Die beeld van die seun wat hy leer ken het was ’n  prentjie van ’n  gehoorsame kind, iemand wat sy medemens respekteer, hulpvaardig is, en vir wie hy as onderwyser net die hoogste agting het.
Sy ma Dienie, het daarna in ’n  baie emo-sionele getuienis vertel van die gesin se swaarkry-pad en hoe hul dikwels nie kos gehad het toe hulle die inkomste van Koen en JR as broodwinners van die gesin verloor het. Sy en Nikolai woon nou in ’n  gastehuis waar sy ook werk.
Sy het gepleit vir ’n  tweede kans vir Nikolai en gesê dat sy glo dat hy bang was vir sy pa en daarom aan die grusame daad deelgeneem het.
Sy het ook gesê dat sy wens sy die waarheid kon weet en getuig oor hoe sy nagmerries kry sedert die gebeure.
Beide Koen en JR het self Maandag ook in die getuiebank gestaan waar hulle die familie van die oorledene, maar ook hul eie familie, om verskoning gevra het.
Hy het egter steeds ontken dat hy Nikolai of enige van die ander beïnvloed het, en ook getuig dat hy niks kon doen om JR van sy planne te laat afsien nie.
“Ek is jammer ek het my kinders op daardie stadium gefaal. Ek het begin regmaak teenoor my kinders, my vrou en my familie,” het Koen gesê.
Hy het gesê dis ’n  bittere ding wat gebeur het en dat daar nie ’n  dag verbygaan dat hy nie dink aan wat gebeur het nie.
“Dit vreet soos ’n  kanker aan my. Ek het meer as berou. Ek het per ongeluk my ore uitgeleen aan ’n  plan wat nie kon werk nie,” het hy gesê.
Die vier is in Februarie vanjaar al skuldig bevind aan die moord en roof met verswarende omstandighede.
Die moord is in Desember 2014 gepleeg toe Marx onder valse voorwendsels na Kuyler se huis gelok is, oorrompel, vasgebind en gedwing is om sy geheime kode van sy bankkaart te gee sodat geld uit sy rekening onttrek kon word.
Terwyl kleefband om sy mond gedraai was, is hy ook deur JR gemartel wat sy neus toegedruk het, en het hy versmoor. Sy lyk is met plasties toegedraai en in sakke gedruk waarna dit in ’n stormwaterpyp langs die Kopjeskraalpad versteek is.
André Kruger, nog een van Marx se aanvallers, het byna twee weke later die toneel aan die polisie uitgewys. Kruger het ingevolge ’n pleitooreenkoms vir die staat getuig.
Kuyler het kort voor die moord 18 geword en was byna ’n jaar in aanhouding. Kuyler wat tans op borg uit is, het deurgaans van sy swygreg gebruik gemaak.
Koen en JR is sedert hul inhegtenisname in aanhouding, terwyl Nikolai onder sy ma se sorg geplaas is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button