
Dit is die ene bedrywigheid en ‘n ongelooflike lekker atmosfeer by die AfriDome in Parys waar gereed gemaak word vir die SA National Western Mounted Games wat môre, Sondag 2 Oktober begin en duur tot Woensdag 5 Oktober.
Altesaam 600 perde en ruiters van al die land se provinsies asook ‘n span van Zimbabwe neem deel. Die kampioenskappe is oop vir die publiek om te kom kyk en begin die kragmetings 08:00 daagliks en eindig om 17:00.
Deelnemers moet aan al die 10 verskillende items deelneem tydens die kampioenskappe. Van die items sluit in Barel Racing, Speed Ball, Pole Bending, Keyhole en Figure 8 Flags, en verg besondere vernuf van perd en ruiter wat teen tyd die uitdagings op die baan moet voltooi.
Daar word meegeding in ‘n kinder, junior, senior en veteraan kategorie met die jongste ruiters wat tussen 6 en 7 jaar oud is, en die oudste deelnemer is 75 jaar oud.



