600 Perde in parade: Jy het dit nog nie gesien nie!
Gaan maak 'n draai by die AfriDome in Parys


Sondagoggend 2 Oktober om 07:15 die oggend sal 600 perde en ruiters vanuit al die provinsies reg oor die land asook ‘n internasionale span van Zimbabwe aan ‘n parade deelneem met die opening van vanjaar se SA National Western Mounted Games. Die kampioenskappe vind weer vanjaar by die AfriDome in Parys plaas en beloof ‘n skouspel te wees soos jy nog nie vantevore gesien het nie.
Die SA National Western Mounted Games word gehou van Sondag 2 Oktober tot Woensdag 5 Oktober en ding die ruiters mee van 08:00 soggens tot 17:00 saans. DIe top ruiters en klasse in die SA Equistrian Federation en ook die internasionale ruiters sal die Dinsdag en Woensdag in aksie wees.
Ruiters moet aan al die 10 verskillende items deelneem tydens die kampioenskappe. Van die items sluit in Barel Racing, Speed Ball, Pole Bending, Keyhole en Figure 8 Flags, en verg besondere vernuf van perd en ruiter wat teen tyd die uitdagings op die baan moet voltooi.
Daar word meegeding in ‘n kinder, junior, senior en veteraan kategorie met die jongste ruiters wat tussen 6 en 7 jaar oud is, en die oudste deelnemer is 75 jaar oud.
Die kampioenskappe is oop vir die publiek. Kom kyk na die ongelooflike ruiterkuns en ondersteun die deelnemers.





