News

Dogtertjie leef danksy babakluis

Al wat sy by haar gehad het, was ‘n kombersie.

Paramedici het geskat dat sy skaars vier dae oud kon wees. ‘n Volmaakgeskape babadogtertjie wat Woensdagoggend in die babakluis by die Emunah Foundation in Eerstelaan gekry is. Al wat sy by haar gehad het, was ‘n kombersie.

Colin Viljoen met die babadogtertjie wat in die babakluis gekry is. 

Maar was dit nie vir die persoon wat die verantwoordelike besluit geneem het om haar ‘n kans op lewe te gee nie, het sy, soos baie ander weggooibabas, waarskynlik op ‘n vullishoop, in ‘n veld of in ‘n asblik beland. Die Viljoen-gesin was besig om gereed te maak vir elkeen om met hul dagtaak te begin toe die kluisalarm afgegaan het. Maar danksy die Viljoens se vinnige optrede, paramedici wat seker gemaak het dat sy gesond is, en maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie wat gou ingespring het om te help, het sy ‘n tweede kans op lewe gekry.
Die dogtertjie is intussen in die liefdevolle sorg van die babahuis Rock of Joy geplaas, terwyl die nodige wetlike prosesse afgehandel word. Maar die verhaal van hierdie dogtertjie is ook die verhaal van die eenjarige Omri, nog ‘n kluisbaba wat steeds in die Viljoens se sorg by die Emunah Foundation is. Klein Omri is in Oktober 2021 in die Emunah-babakluis gekry. Hy was toe maar net ‘n maand oud.


Verlede week was dit dié seuntjie (inlasfoto) se eerste verjaardag by Emunah – die enigste plek wat hy as huis ken. Maar anders as die babadogtertjie het klein Omri verskeie gesondheidsuitdagings waaronder ‘n vergrote hartkamer. Voor die ouderdom van vyf maande het hy al begin sukkel om te sluk en het hy steeds ‘n voedingsbuisie omdat hy nie in staat is om self te kan eet of drink nie. Klein Omi weeg net 7 kg.
Die naweek het sy toestand agteruitgegaan en is hy in die Johannesburgse Algemene hospitaal opgeneem waar hy waarskynlik geopereer sal moet word om sy refluks onder beheer te kry. Dan sal hy moontlik in ‘n tydelike versorgingshuis in Johannesburg geplaas moet word waar hy die gespesialiseerde sorg kan kry wat hy nodig het, totdat hy uiteindelik sterk genoeg is om terug te kom.
Daar is baie uitdagings, baie kostes om na hierdie klein mensies om te sien – weggooi kinders, maar ook kinders wat net die skadukant van die lewe ken. Sommige wie hul ouers nie meer wil hê nie – ander verwaarloos of mishandel, of wat tydelik uit hul omstandighede geneem moet word na ‘n plek van veiligheid soos die huis van Colin en Sonja Viljoen waar hulle met liefde ontvang en versorg sal word terwyl wetlike prosedures afgehandel moet word.
Jy kan Emunah help om voort te gaan om vir hierdie kinders ‘n tuiste te bied deur enige skenkings by Emunah in Eerstelaan 50 af te laai, of ‘n geldelike bydrae maak in die volgende rekening: Emunah Foundation NPC, Standard Bank, rekeningnommer 042317983, takkode 051001. Hulle het ook ‘n betroubare voertuig baie nodig.
Dankie aan elkeen wat die kombers-lootjieprojek ten bate van Emunah by Anna Patat ondersteun het. Geluk aan Lisa wat die wenner was van die kleurvolle en pragtige handewerk.

Anneke Odendaal oorhandig die geld wat met die kombers lootjieprojek deur Anna Patat ingesamel is, aan die Emunah Foundation 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button