Drie vermeende kapers op R59 vasgetrek
Drie vermeende kapers is Vrydag 23 September in die vroeë oggendure op die R59 net buite Parys deur die polisie in hegtenis geneem nadat hulle probeer het om ‘n vragmotor sowat 20km buite Hoopstad te kaap, en toe in die rigting van Parys weggejaag het toe hulle sien die polisie is op hul spoor. Volgens …

Drie vermeende kapers is Vrydag 23 September in die vroeë oggendure op die R59 net buite Parys deur die polisie in hegtenis geneem nadat hulle probeer het om ‘n vragmotor sowat 20km buite Hoopstad te kaap, en toe in die rigting van Parys weggejaag het toe hulle sien die polisie is op hul spoor.
Volgens sers. Josephine Rani, woordvoerder van die polisie in die Fezile Dabi-distrik, is ‘n uitkyk vir die swart Fortuner waarmee die verdagtes gery het, gegee. Sers. Rani sê nadat die verdagtes gesien het dat hulle deur die polisie gevolg word, het hulle op die polisielede geskiet.
Die polisie het op hul spoor gebly en het die Fortuner later stilgehou waarop die drie verdagtes gearresteer is. Sers. Rani sê beslag is gelê op ‘n vuuwapen wat aan een van die verdagtes behoort het, asook klapmusse en handskoene.
Die drie verdagtes tussen die ouderdom van 37 en 44 jaar, sal Maandag 26 September voor die Parys landdroshof verskyn op klagte van poging tot moord.



