Loopspruit vol riool
Aanhoudende lekke in die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit se rioolstelsel het veroorsaak dat die Loopspuit langs Fochville op dié tydstip grys van die riool is.
Verskeie inwoners van Fochville het die afgelope naweek oor ‘n aaklige reuk in die lug gekla.
“Daar is ‘n afgryslike stink reuk in Garsstraat. Mense in Vredestraat kla ook daaroor. Ek is seker dit kan ons siek maak. Gisteraand was dit so erg, ons moes ons deure toemaak,” het ‘n bekommerde inwoner verlede Saterdag op sosiale media gekla. Inwoners van sover as Bosmanstraat het ook oor die probleem gekla.
Die munisipaliteit het wel vroeg Maandagoggend op die inwoners se klagtes gereageer en het die gebreekte pyp in die Dawid Nel Park langs Hawthornstraat gaan regmaak waar die riool gelek het. Wat hulle egter nie gedoen het nie, was om die riool wat reeds in die rivier gelek het, te probeer skoonmaak.
Soveel riool het in die Loopspruit gelek dat ‘n duidelike strook vaal rioolslik aan die rivier se kant te bespeur is. Van die rotse is ook met riool bemors. Die plek waar die besoedeling die duidelikste is, is egter by die wal in die rivier waar van die riool wat gelek het, opdam. Die besoedeling is hier só dik dat dit amper soos modder lyk waarop mens kan loop. Teen Maandagmiddag het daar steeds ‘n aaklige reuk in die rug gehang.
Volgens die munisipaliteit het hulle wel Dinsdag chloor gestrooi in die water waar die riool gelek het. Hulle het ook belowe om die skade wat aangerig is, te rehabiliteer.





