Op 100-jarige ouderdom is niks lekkerder as ’n drukkie van haar kleinkinders
Vra jy haar hoe lank sy al in Sally Martin woon, antwoord sy met ‘n laggie - “veels té lank,” want in dié ouma van 11 kleinkinders en 30 agterkleinkinders se hart is ‘n lewenslus so aansteeklik soos haar glimlag.

Geskenke kry jy nie meer as jy 100 jaar oud is nie – jy’s dan té oud, skerts Martie de Wet met ‘n ondeunde vonkel in haar oë, en ’n groot glimlag op haar gesig.
Maar vir dié ouma is daar niks wat kom by ‘n drukkie van al haar kleinkinders nie, vertel sy. Sy het Sondag, 18 September 100 jaar oud geword. Met ‘n goue kroontjie op haar kop en omring deur hulle wat ‘n spesiale plek in haar hart het, is dié spesiale dag Vrydag by Sally Martin Park gevier.
Martie is in Angola as een van 11 kinders gebore. Later het sy Suidwes toe verhuis, en toe na Johannesburg waar sy as boekhouer gewerk het in die romery waar haar man bestuurder was.
In 100 jaar het sy baie gesien en baie beleef. Sy onthou hoe sy as kind agter haar broer se rug op ‘n donkie skool toe gery het.
Daar was oorloë en modernisering, maar wat vir haar deur die jare die meeste uitgestaan het, was die vreugdes wat sy ervaar het.
“Ons was ‘n plesierige klomp wat lekker kon dans.”

Vra jy haar hoe lank sy al in Sally Martin woon, antwoord sy met ‘n laggie – “veels té lank,” want in dié ouma van 11 kleinkinders en 30 agterkleinkinders se hart is ‘n lewenslus so aansteeklik soos haar glimlag.



