News

Checkers Mini’s sorg toe vir 400kg se hondekos

’n Jong entrepreneur wat beslis geleenthede raaksien.

Almal ken hulle. Sommige versamel hulle, ander gee hulle weg, maar danksy haar blink plan, het ’n graad 10 leerder van Hoërskool Parys, met Checkers Mini’s ’n groot verskil vir die DBV gemaak.
Deandré Pieterse het Vrydag nie minder nie as 400kg se hondekos aan Parys DBV oorhandig. en boonop ’n hele paar ywerige mini-versamelaars gehelp om hul versamelings vol te maak.

Vrydag kon die 400kg hondekos aan Parys DBV oorhandig word. ‘n Skenking wat inderdaad ‘n groot verskil maak vir die organisasie.

Met die mini’s wat sy gehad het en wat mense vir haar geskenk het, het Deandré mense aangemoedig om 1kg hondekos teen R15 by haar te koop in ruil vir die Checkers mini wat jy kort. Só het sy in ’n japtrap die 400kg se hondekos bymekaar gemaak.
In graad 5 al het Deandré en haar ma, Monica, met die blink ruilpan vorendag gekom, en kon sy toe 1,1 ton se hondekos aan die DBV oorhandig.
Toe daar weer vanjaar ’n splinternuwe Checkers mini-reeks beskikbaar gestel is, het Deandré op Facebook begin rondvra om te hoor of mense dié keer weer bereid sou wees om mini’s te ruil vir hondekos. Die reaksie was so positief dat sy weer die projek aangepak het.
Uit ’n 25kg sak hondekos het sy die 1kg pakkies hondekos opgemaak wat sy dan vir R15 verkoop het, in ruil vir ’n mini.
Sy het selfs volledige versamelings van vorige mini-reekse gehad wat mense kon ruil – ’n mini vir hondekos.

Dankie aan Johan van Serfco vir die ondersteuning vir Deandré se projek. DIe mini-ruildae is op die Serfco-perseel gehou.

Haar liefde vir diere sien jy sommer gou raak as jy kyk na die besondere band tussen haar en haar worshond/Skotse terriër reuntjie, Diesl.

Deandré Pieterse saam met haar hondjie, Diesl

Diesl was immers ook die inspirasie vir Deandré se eie onderneming, Diesl and Me wat sy al die afgelope twee jaar bedryf.
Sy verkoop hondebedjies, leibande, speelgoed en selfs die fraaiste “klere” vir viervoete. Haar ouma het haar touwys gemaak agter die naaimasjien. Eers het sy leer haarrekkies maak, maar kort voor lank was sy so vaardig agter die naaimasjien dat sy die meeste van haar voorraad wat sy op markte en aanlyn verkoop, self kon maak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button