News

AfriForum: Uitslae lyk beter, maar nog nie reg nie

AfriForum: Uitslae lyk beter, maar nog nie reg nie

Volgens Alta Pretorius, streekskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier-streek, lyk die uitslag van kontrole watermonsters wat Vrydag deur die burgerregte organisasie in Parys geneem is, beter as die uitslag van die watermonsters wat in Augustus deur Save Ngwathe geneem is, hoewel die tellings nog nie reg is nie.
Die watermonsters is deur die geakkrediteerde laboratorium, Envirocare in Potchefstroom, getoets.
AfriForum se kontroletoetse het gevolg nadat die organisasie op Woensdag, 7 September die Ngwathe Munisipaliteit op terme geplaas en 24 uur gegee het om drasties by die toestand van die dorp se drinkwater in te gryp. Daar is toe gesê as daar nie binne 24 uur ‘n drastiese verandering is nie, die organisasie alles in sy vermoë sal doen om toe te sien dat Parys se inwoners skoon drinkwater het.
Die organisasie het Vrydag die drie watermonsters, waarvan twee in die Tumahole-woonbuurt, en een in die dorp se sakekern, geneem op dieselfde punte waar Save Ngwathe in Augustus watermonsters geneem het wat ook deur Envirocare getoets is. Vrydag se kontrole monsters is onder toesig van ‘n laboratoriumassistent geneem, en in teenwoordigheid van ‘n persoon wat oor die nodige kwalifikasies beskik rondom waterkwaliteit.
Pretorius het Dinsdag met Gazette se ter perse gaan gesê AfriForum wag nog op die beloofde toetsuitslae wat Ngwathe aan die organisasie sou voorsien het.
Gazette het die munisipaliteit ook gevra vir ’n verklaring oor die watersituasie, maar is dit teen ons ter perse gaan nog nie ontvang nie. Munisipale woordvoerder, mnr. Steve Naale het wel aangedui dat die tegniese span Dinsdag, ná Gazette se druktyd sou vergader het, waar die watersituasie bespreek sou word. Sodra die verklaring ontvang word, sal Gazette dit publiseer.

Related Articles

Back to top button