
AfriForum het vanmiddag (Maandag 12 September) bevestig dat daar nog nie uitslag is op die resultate van die watermonsters wat Vrydag deur die burgerregte organisasie in Parys geneem is nie. Alta Pretorius, streekskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier-streek wat Parys insluit, het gesê dat die uitslae van die geakkrediteerde laboratorium, Envirocare in Potchefstroom, môre (Dinsdag 13 September), verwag word.
AfriForum het op Woensdag 7 September die Ngwathe Munisipaliteit op terme geplaas en 24 uur gegee om drasties by die toestand van die dorp se drinkwater in te gryp. Daar is toe gesê dat as daar nie binne 24 uur ‘n drastiese verandering is nie, die organisasie alles in sy vermoë sal doen om toe te sien dat Parys se inwoners skoon drinkwater het.
Die organisasie het Vrydag drie watermonsters, waarvan twee in die Tumahole-woonbuurt en een in die dorp se sakekern geneem op dieselfde punte waar Save Ngwathe ook in Augustus watermonsters geneem het wat deur die Envirocare laboratorium getoets is. Met Save Ngwathe se toetse is gevind dat aldrie monsters nie geskik was vir menslike gebruik nie, en het die monsters die teenwoordigheid van “faecal coliforms’ getoon.
Vrydag se kontrole monsters is onder toesig van ‘n laboratoriumassistent geneem en in die teenwoordigheid van ‘n persoon wat oor die nodige kwalifikasies beskik rondom waterkwaliteit.
Gazette het die munisipaliteit gevra oor antwoorde oor die watersituasie en waarom krane droog bly, maar het die Ngwathe munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale teen vanmiddag aangedui dat met vanoggend se kragprobleme die tegniese span eers môre sal vergader om antwoorde te kan gee oor die watersituasie.
Vanoggend het die dorp weens ‘n fout op Ngwathe se kragnetwerk vir ure sonder krag gesit ná Eskom beurtkrag.



