News

Save Ngwathe: ‘Gemeenskappe moet saamstaan om vir beter dienste te beding’

Sy raad vir Ngwathe se inwoners was om as gemeenskap saam te staan sodat rolspelers so spoedig moontlik gekry kan word om te onderhandel.

Daar is min dinge wat verbruikers só frustreer as knaende elektrisiteitsonderbrekings, ‘n gesloer met fout herstel en navrae, swak kliëntediens en terugvoer, en laat en foutiewe rekeninge.
Verbruikers verwag effektiewe kwaliteit en bekostigbare munisipale dienslewering, ook waar dit kom by elektrisiteitverspreiding.
Chris Bosch, hoof van dienste by die private elektrisiteitsverspreider, Rural Free State (Edms) Bpk. wat die elektrisiteitsinfrastruktuur onderhou en bestuur in die Mafube Plaaslike munisipaliteit, het Saterdag tydens ‘n gemeenskapsvergadering van die drukgroep Save Ngwathe, verduidelik hoe Rural elektrisiteitsverspreiding in Mafube doen. Die Mafube Plaaslike munisipaliteit grens aan Ngwathe en sluit die dorpe Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia in.
Hy het verbruikers in Ngwathe se vrae beantwoord oor private elektrisiteitsverspreiding in ‘n munisipaliteit, en wanneer Eskom ‘n vennootskapsooreenkoms met ‘n munisipaliteit sou aangaan vir elektrisiteitsverspreiding soos in die geval van die Maluti-A-Phofong munisipaliteit.
Rural bestaan sedert 1990 onder dieselfde aandeelhouers en het in 2013 reeds samesprekings met die Ngwathe munisipalteit gehad oor elektrisiteitsverspreiding. Die samesprekings is egter deur politiek in die wiele gery, het Bosch gesê.
Hy het nie doekies omgedraai oor die enorme uitdagings in Ngwathe se kragvoorsieningsnetwerk nie. Hieronder tel die swak toestand van die kragnetwerk, onderdele en materiaal wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie, ‘n gebrek aan voertuie, gereedskap en toerusting, gebrekkige beplanning vir voorkomende onderhoud en opgraderingswerk, ‘n tekort aan bereidwillige en bevoegde werknemers, die swak finansiële posisie van Ngwathe, en vasgestelde elektrisiteitstariewe wat steeds gevra word terwyl Eskom se tariewe verskil in byvoorbeeld winter- en somermaande, het hy gesê.
Wanneer kragvoorsiening in ‘n munisipaliteit oorgeneem word hetsy deur Rural, ‘n ander private verspreider of deur ‘n vennootskapsooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit, is dit nodig dat alle rolspelers in die onderhandelinge om ‘n tafel gekry moet word. Dit sluit die minister van finansies in die nasionale tesourie, die Vrystaatse premier, Eskom, die gemeenskap, die uitvoerende bestuur van die munisipaliteit en die geïdentifiseerde korttermyn diensverskaffer in, wat dan met ‘n werkbare oplossing vorendag moet kom om so spoedig moontlik ‘n diens te kan lewer. Dit is belangrik dat elektrisiteitsverspreiding gedoen word deur ‘n span wat die kennis en ‘n suksesrekord het, het Bosch gesê.
Hy het ook die belangrikheid uitgewys van verantwoordbaarheid vir die inkomste verkry uit elektrisiteitsverspreiding.
Sy raad vir Ngwathe se inwoners was om as gemeenskap saam te staan sodat rolspelers so spoedig moontlik gekry kan word om te onderhandel.
“Mense moenie dink dat oplossings môre gaan kom nie. Die verval van infrastruktuur en dienslewering in munisipaliteite het bykans 30 jaar geneem om te kom op die vlak waar dit tans is, en is nie uniek aan Parys nie,” is weer Saterdag gesê. Bosch het op ‘n vraag oor óf munisipale bestuur private dienstekontrakte teenstaan, gesê dat teenkanting uit hul ervaring meestal is waar daar grootskaalse korrupsie of sabotasie was.
Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Mooirivier-streek, het op haar beurt meer inligting gegee oor Pioneer Dienste wat reeds in verskeie munisipaliteite betrokke was met onder meer waterverspreiding. Pioneer is as ‘n AfriForum inisiatief gestig, waarin AfriForum 100% aandeelhouding het. Pioneer het nie personeel in diens nie, maar maak gebruik van ‘n span kundiges wat betrek word en dan kontrakteurs aanstel. Sy het gesê dat van AfriForum-takke gebruik gemaak word om diensleweringsleemtes plaaslik uit te wys.
Pretorius het verwys na Koster waar Pioneer Dienste genader is om die waterwerke oor te neem, en die groot sukses wat daar in ‘n kort tydperk behaal is, totdat ‘n hofuitspraak beslis het dat die waterverspreiding weer aan die munisipaliteit oorhandig moes word.
Ook in Ngwathe het AfriForum aan die einde van 2021 verskeie samesprekings gehad waar ‘n memorandum tussen die partye onderteken is, en AfriForum onderneem het om kenners beskikbaar te stel om te help met die saamstel van verslae, en ‘n werksplan om die munisipaliteit se water- en rioleringsdiens te verbeter. Tot op hede het die munisipaliteit nog nie van die kundigheid wat aangebied is, gebruik gemaak nie, het Pretorius gesê. Pretorius het Saterdag ook verwys na die teleurstellende gesloer met die hofuitspraak na AfriForum se dringende hofaansoek tot die Hoë Hof in Bloemfontein oor Parys se voortslepende waterkrisis.
Ná ses weke is daar steeds geen uitspraak nie. Sy het gesê dat AfriForum nou probeer om ingryping in die Ngwathe munisipaliteit op nasionale vlak te bewerkstellig.
Inligting oor die proses van dispuutverklaring met ‘n munisipaliteit is ook die oggend deur Jacques Janse van Vuuren en Hans Pretorius van die Mafube Business Forum gegee.
Meer oor Save Ngwathe
Save Ngwathe is as openbare, nie-politiese drukgroep in Julie vanjaar gestig om die stem van die publiek te wees en só die Ngwathe munisipaliteit tot verantwoordbaarheid te dwing ten opsigte van dienslewering. Teen Maandag het Save Ngwathe 2 298 ingeskrewe lede gehad. As sambreelorganisasie sluit Save Ngwathe al die Ngwathe dorpe (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville) in. Die groep is tans besig om ‘n formele struktuur daar te stel met ingeskrewe lede waarmee die organisasie met ‘n sterk bedingingsmag met munisipale en verantwoordelike regeringsorganisasies wil onderhandel. ‘n Databasis word ook bygehou oor munisipale diensleweringsprobleme en die oplos daarvan. Meld probleme hier aan:
E-pos: faults@savengwathe.co.za
WhatsApp: 076 581 1201
SMS: 44119.
Dit is ook belangrik dat jy terugvoer op dieselfde platform sal gee as die probleem opgelos sou word.
Die munisipaliteit moet geïmpliseer word wanneer jy ‘n probleem aanmeld, wat beteken jy moet steeds eers die probleem by die munisipaliteit aanmeld.
Sou jy nie antwoord of terugvoer van die munisipaliteit kry nie, meld dit ook as jy die probleem rapporteer.
Save Ngwathe se grondwet is op hul webtuiste beskikbaar, en lede betaal ‘n lidmaatskapfooi van R35 per jaar wat aangewend word vir die administratiewe kostes om die platforms daar te stel.

Related Articles

Back to top button