News

Elke houtmotor is spesiaal

Elke motor is 'n kunswerk.

PARYS. – Danie Cloete (62) bou al vir die afgelope 50 jaar houtspeelgoed.
“Ek het toe ek 10 was, al begin om motortjies van tamatiekasplankies te bou,” vertel hy.

Danie met een van sy handgemaakte houtmotors.

Dan was daar die tyd wat hy vir sy seun houtvliegtuie gebou het. Tyd het verloop, maar sy passie om met hout te werk, het gebly.

Sowat 15 jaar gelede het hy ernstig begin om houtmotors te bou. “Ek kan enige model bou, van ongeveer 1929 tot die heel nuwe motors.”

Danie het jare by Yskor gewerk. Hy het in 2000 ‘n pakket geneem en is daarna op ‘n bierplaas buite Parys in diens geneem.

Hier het hy houtpalette bekom en vandaar het sy passie weer opgevlam. Hy kan net in die aand aan die motors werk.

Een van Danie se meesterstukke

“As ek elke aand van so 18:00 tot 22:00 werskaf, dan neem so ‘n motor my ‘n week. Wanneer ek voltyds aan een kan werk, dan kan ek dit in twee dae voltooi.”

Tans maak hy die motors op bestelling en het reeds ‘n lys van meer as 350 om te maak. Sy groot droom is om die motors voltyds te kan bou.

Danie werk nie met ‘n draaibank nie en het ook nie elektrisiteit op die plaas nie. Elke motor is ‘n unieke kunswerk wat 35 cm lank is en alles word met die hand gemaak.

Hy kry sy idees en presies hoe ‘n motor moet lyk uit ou motortydskrifte. Hy het juis onlangs ‘n SMS in Vaalweekblad geplaas waar hy vir ou tydskrifte gevra het.

“Binne vier dae het ‘n man van Sasolburg my gekontak en vir my ‘n hele stapel tydskrifte gegee,” vertel hy dankbaar.

“Om die motors te kan bou is my lewe. Ek sê altyd, hulle kan my liewer in die tronk sit as om vir my te sê ek kan nie meer die houtmotors bou nie.”

Vir meer inligting oor die houtmotors, besoek gerus die Facebookblad Danie’s wood creations.

Elke houtmotor is spesiaal

Related Articles

Back to top button