News

’n Ma se onwrikbare wil om weer te kan loop

Ek moes hierdeur - vir my kinders

Dit was haar dag af. ‘n Hele naweek was beplan waar sy tyd saam met haar kinders sou spandeer. Maar sy moes eers ‘n verwysingsbrief by die Parys-hospitaal gaan oplaai.
Min het Willemien Landman op 9 Desember 2021 geweet dat met daardie rit op haar bromponie hospitaal toe, haar lewe handomkeer sou verander.
Nege maande ná daardie traumatiese oggend toe sy deur ‘n motoris op die h/v Wes- en Derdelaan raakgery is, is sy steeds aan ‘n rolstoel gekluister met ondraaglike pyn. Haar bobeen, pelvis en knieskyf is in die ongeluk gebreek en sy is na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad oorgeplaas. ‘n Hospitaalbed waar sy vir twee maande gelê het voordat sy die eerste keer geopereer is.
Maar die breuk aan haar been kon nie herstel word nie, omdat die regte grootte prostese nie by die staatshospitaal beskikbaar was nie. Daarna het verskoning op verskoning gevolg wat verhinder het dat sy weer geopereer kon word. Elke keer is sy voorberei vir die teater, maar moes sy hoor dat die operasie telkens op die nippertjie uitgestel is. Sy het infeksie in haar wond gekry, en toe het die stryd begin om elke keer die wond in die teater skoon te maak. Later was daar selfs sprake dat haar been geamputeer sou word.
Vergeefs is probeer om haar van die Boitumelo-hospitaal na ‘n Bloemfonteinse hospitaal oorgeplaas te kry sodat sy die mediese sorg kon kry wat sy nodig gehad het.
Maar vir hierdie 45-jarige enkelma van drie was opgee nie ‘n opsie nie. Haar onwrikbare wil om weer te kan loop en by haar kinders te wees, het haar gedra in die alleen maande van ontnugtering en loutere hel waardeur sy moes gaan. Toe sy uiteindelik danksy die ingryping van ‘n professor van die Universitas-hospitaal van Boitumelo na Pelenomi met beentraksie en ‘n septiese oop wond oorgeplaas is, moes sy vir twee dae op ‘n matras in die gang lê. Daar was nie beddens beskikbaar nie.
Weer was dit die lang wag om teater toe te kon gaan en moes haar femur-kop uiteindelik afgesny word weens die skade van die infeksie. Twee weke nadat sy in Pelenomi-hospitaal opgeneem is, is Willemien uiteindelik na Universitas oorgeplaas.
Dit is hier waar sy vir die eerste keer sedert die ongeluk uit haar hospitaalbed gehelp is om in ‘n stoel te sit. Waar sy met fisioterapie gehelp is om ‘n mate van mobiliteit te kry, en sy begin Augustus haar eerste tree kon gee sodat sy vir drie weke kon huis toe kom. Die eerste keer in nege maande wat sy by haar kinders kon wees.
Maar ook die eerste keer dat sy die volle omvang van die skade aan haar been moes hoor. Dit was grotendeels te wyte aan die langdurige infeksie en herhaaldelike skoonmaak van die wond, en behandeling wat ver te kort geskiet het vir wat sy nodig gehad het. Van haar beenspiere is afgesny en haar regterbeen is nou reeds sowat 10cm korter as haar linkerbeen. Nog is dit nie die einde van haar pad na herstel nie. Op 5 September moet sy terug wees in Bloemfontein, en eers as die infeksie opgeklaar het, sal ‘n heupvervanging gedoen moet word – die enigste uitweg wat nou oorbly.
Dit nadat daar aanvanklik na die ongeluk net skroewe en ‘n prostese ingesit sou word.

“Maar ek moet hierdeur,” sê Willemien, “vir my kinders’. En vir haar werk by die Parys Dierehospitaal. Sy straal wanneer sy vertel hoe sy aanvanklik by die DBV gewerk het, en gedroom het van die dag wat sy by die Dierehospitaal kon werk. ‘n Droom wat sewe jaar gelede vir haar bewaarheid is. “Hulle wag vir my daar. Ek gaan weer loop,” sê sy.
Daar was dae wat sy gewonder het of dit die moeite werd was om aan te gaan. Dae wat sy haarself gevra het – wat as sy nie daardie oggend teruggedraai het om eers haar masker te gaan haal nie?
Maar in die swaar en seer van die maande wat verby is, is daar ‘n verhaal van hande van liefde wat haar telkens opgetel het as sy nie meer kon nie. Wat onbaatsugtig en sonder ophou gehelp, versorg en voorsien het. Dankie aan die Boerevereniging, juf. Hendra Jardim en Parys Primêre skool, Springbok-kafee, O’s restaurant (Tommy en personeel), Mari Meyer & Chrizan Barnardt van Bernard L. du Plessis Prokureurs, Karien Viljoen, Alet van der Walt, Dirk Kotzé en gesin, die DA op provinsiale vlak, Lindi en Jaap v.d. Westhuizen, Marihette Pittaway, Vivienne Mayer, VF Plus verteenwoordigers in Kroonstad, en drs. Johan en Brigitta en personeel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button