News

Rotary wil verskil maak in gemeenskap, sê nuwe president

Soos wat die afgelope twee maande reeds gedoen is, wil die klub hande vat met ander organisasies, en met wedersydse ondersteuning, gemeenskaps- en fondsinsamelingsprojekte aanpak.

Die afgelope twee maande het Parysenaars die plaaslike Rotaryklub aan die werk gesien. Só is verskeie projekte geloods waar ‘n verskil in die gemeenskap gemaak is. Een hiervan is ‘n rolstoelprojek waar mense in nood gratis rolstoele kan leen.
Sandra Uys, sakevrou van Parys, is Saterdag as president van die Parys Rotaryklub ingehuldig tydens ‘n stylvolle inhuldigingsgeleentheid by Stonehenge. Die inhuldigingseremonie is gelei deur Johnny Ford, uittredende president van Rotary Potchefstroom Mooi. Naas Rotariërs van die Potchefstroom Mooi-klub, is die geleentheid ook bygewoon deur besoekende Rotariërs van die Klerksdorp en Viljoenskroon-klubs.
Met die Parys-klub wat vir ‘n tyd onaktief was, was daar die afgelope twee maande ‘n stewige groei in ledetal en is drie nuwe lede ook Saterdag vir die Parys-klub ingehuldig. Hulle is Tilla Odendaal, Henco Uys en Betsie Trieloff.


As president wil Sandra haar beywer om bewusmaking van die Rotariërbeweging as internasionale diensorganisasie in die gemeenskap te skep, het sy Saterdag in haar intree-boodskap gesê.

Sandra Uys, met haar inhuldiging Saterdag as president van die Parys Rotaryklub. By haar is Johnny Ford wat die inhuldigingseremonie behartig het

Soos wat die afgelope twee maande reeds gedoen is, wil die klub hande vat met ander organisasies, en met wedersydse ondersteuning, gemeenskaps- en fondsinsamelingsprojekte aanpak. Hiervan getuig die leierskap wat Rotary Parys in Julie geneem het om voedsel en water, saam met ander vrywilliger- en welsynsorganisasies in die gemeenskap te kon voorsien, veral onder bejaardes, waar die nood die hoogste was, en nood mediese sorg na mense gebring kon word danksy Community Care, tydens die daelange kragonderbreking.
“Ons glo dat ons met harde werk en toewyding ‘n verskil kan maak in die lewens van mens en dier,” het Sandra gesê.
Vandeesweek word daar ‘n verskil gemaak by Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-tak in Parys, waar 85 pare tekkies oorhandig sal word.
‘n ‘Rotary Family Health Day’ word beplan van 14 tot 16 Oktober wanneer gefokus sal word op servikale, bors en prostaatkanker met Rotary Parys, VVA, en Community Care as vennote in die projek.
Noodhulpklasse om die gemeenskap te bemagtig word saam met Community Care en CERT in die vooruitsig gestel.
Daar sal gekyk word daarna om die Rotary-saal gedurende skoolvakansies in te rig vir vakansieprojekte vir kinders, terwyl die behoefte vir saamkuier geleenthede vir bejaardes wat alleen is, ook uitgewys is.
Projekte in samewerking met Parys Info is reeds in die beplanning en wil Rotary ondersteuning gee vir die Vredefort Hartshuis en die DBV, het Sandra gesê.
Die rolstoelprojek is begin danksy ‘n skenking van Keith Ward, ‘n boer van Vredefort. Drie rolstoele waarvan een geskik is vir ‘n kind tot en met 6-jarige ouderdom (geskenk deur Karien Viljoen), asook twee looprame (geskenk deur ‘n afgetrede paramedikus en Rotariër, Johan Bosch), is reeds beskikbaar.
In nood kan mense dié looprame en rolstoele gratis leen.
Met Saterdag se inhuldigingsgeleentheid is daar ‘n donasie aan Save Ngwathe oorhandig ter ondersteuning van dié drukgroep om munisipale dienslewering te verseker, en is erkenning gegee by wyse van meriete sertifikate aan Pearl-Ann Liebenberg vir haar onbaatsugtige hulp met die boekhouding van Parys Rotaryklub, en aan Parys Gazette as gemeenskapskoerant vir die bydrae wat die koerant in die gemeenskap, maar ook omliggende dorpe lewer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button