News

Lewende orgaanskenker was haar broer se laaste hoop

Chantelle het in 2020, 70% van haar lewer geskenk toe haar broer siek geword het. Sy het dit as die enigste uitweg gesien om hom te kan gesond maak.

“As ek die geleentheid kry om weer ‘n orgaan te skenk, sal ek nie twee keer dink nie.”

Dit is die woorde van Chantelle Griesel, ‘n sekretaresse by Mediclinic Potchefstroom se hospitaalbestuur-afdeling, wat as ‘n lewende orgaanskenker ‘n deel van haar lewer prysgegee het met die hoop om haar broer, Eugene Strydom, se lewe te red.

Chantelle het in 2020, 70% van haar lewer geskenk toe haar broer siek geword het. Sy het dit as die enigste uitweg gesien om hom te kan gesond maak. Eugene is ongelukkig sewe dae na die skenking oorlede.
“Ek moes iets doen om te help. Al kon hy nie nog langer lewe nie, voel ek dat ek as orgaanskenker alles moontlik kon doen om sy lewe te red,” vertel sy.

Die prosedure om as skenker te kwalifiseer en goedgekeur te word was intensief, aangesien verskeie toetse gedoen moes word om te kyk of haar lewer gebruik kan word. Die operasie om ‘n gedeelte van haar lewer te verwyder het ook 10 ure geduur. Sy noem ook dat sy ongemak ervaar het weens die sny en dat dit tyd geneem het om volledig te herstel.

Chantelle Griesel ‘n sekretaresse by die hospitaalbestuur-afdeling by Mediclinic Potchefstroom, het in 2020 ‘n gedeelte van haar lewer geskenk om haar broer se lewe se probeer red. Foto: Wouter Pienaar

“Ek moes baie medikasie neem in daardie tyd. Ek moes net baie leefstylkeuses verander sodat my lewer kan aanpas.”
Van hierdie leefstylkeuses sluit haar eetgewoontes in, sowel as die feit dat sy sekere medikasie soos Paracetemol en hoesmedisyne nie meer kan gebruik nie.
“Ek moet nou meer van natuurlike produkte gebruik maak, en dit is nie altyd so doeltreffend vir byvoorbeeld ‘n hoofpyn nie. Ek het steeds ‘n normale lewe en dit was beslis alles werd om my orgaan te skenk,” vertel Chantelle.
Dit is Augustus nasionale orgaan en weefselskenkingsmaand en Chantelle moedig mense aan om as orgaanskenkers te registreer en ‘n verskil te maak.
“My oë het oopgegaan toe ek sien hoe baie mense, insluitend kinders, ‘n lewer en niere nodig het. ‘n Nuwe orgaan kan iemand se lewe heeltemal verander.”

Interessante feite rondom orgaan/weefselskenking:

•Dit kos niks om ‘n orgaan/weefselskenker te word nie
•Orgaanskenking gebeur na ‘n persoon breindood verklaar is, maar steeds deur ‘n suurstofmasjien aan die lewe gehou word. Weefselskenking kan na ‘n paar uur of dae na ‘n persoon se dood steeds plaasvind.
•Met lewende orgaanskenking kan ‘n gedeelte van ‘n persoon se lewer of ‘n nier geskenk word.
•‘n Persoon kan 50 mense se lewens red deur corneas, vel, been en hartkleppe as deel van weefsel te skenk.
•Enige gesonde persoon tussen die ouderdom van 15-80 jaar kan weefsel skenk.
•‘n Persoon se familie moet toestemming gee om organe of weefsel te kan skenk. Dit is dus belangrik om hierdie besluit met jou familie te kommunikeer.
•Die waglys vir ‘n nier in Suid-Afrika is 12 tot 15 jaar en terwyl pasiënte wag, moet hulle 12 uur per week behandeling in ‘n dialisesentrum kry. 20 000 nuwe pasiënte word elke jaar in Suid-Afrika met nierversaking gediagnoseer en die koste om een persoon op dialise per jaar te onderhou, is ongeveer R280 000.
•Persone wat wil registreer as orgaan en weefselskenker kan na www.odf.org.za of www.tissuedonation.org.za gaan.

Vir meer inligting kan Stella de Kock (besturende direkteur: Transplant Education for Living Legacies) by 082 785 2530 ook gekontak word.

Lees die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad hier:

Lewende orgaanskenker was haar broer se laaste hoop | Potchefstroom Herald

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button