News

Leraar se droom: “Die Here het vir ons ’n groot deur oopgemaak”

Dankie vir elkeen wat die gemeente help om hul kerk te kan bou

“Die Here het vir ons ‘n groot deur oopgemaak.”
Ons kan nou pleistersand kry, sement kry, hout koop.
Só het ‘n baie dankbare Herman Johnson, hoofleier van die Christen-gemeente in Schonkenville vandeesweek gesê, nadat die gemeente ’n skenking ontvang het wat uiteindelik die gemeente se droom om ‘n eie kerkgebou te kan hê, dalk so gou as Desember vanjaar, sal laat realiseer.
Die gemeente bou al twee jaar lank self aan die kerkgebou omdat die sinkstruktuur waar hul voorheen kerk gehou het net té klein en té warm in die somermaande geword het om hier te kon kerk hou.
Ten spyte daarvan dat hul net kon bou soos wat daar geld was vir boumateriaal of skenkings ontvang is, het groot en klein ewe fluks gebou. Stadig maar seker het die kerkgebou gevorder tot daar nou dak opgesit kan word.
Teen verlede week was daar egter nog 25 dakbalke nodig, en weer is die gemeente se gebede binne dae verhoor, vertel Herman, en het net 8 balke nog gekort.

Die foto is geneem toe daar onlangs begin is om die dakkappe te maak. 

Nadat die skenking vroeg vandeesweek ontvang is, kan heelwat boumateriaal wat nog kort ook gekoop word, en glo Herman dat die kerkgebou teen Desember klaar sal wees.
Al waarvoor daar nog hulp nodig is, is die materiaal om die kerkgebou binne af te rond. As mense wil help met materiaal of fondse vir die plafonne en die bedrading ensovoorts. sal dit baie waardeer word.
Die gemeente is in die laat tagtigerjare gestig en het tans 50 lidmate. Aanvanklik is in ‘n huis kerk gehou, en later is die gemeenskapsaal in Schonkenville vir eredienste gehuur.
Toe die gemeente die grond gekry het, is die sinkstruktuur opgerig waar tot nou toe kerk gehou is.
Mense wat kan help, kan vir Herman by 072 764 3731 skakel.

Related Articles

Back to top button