Tannie Kitty se hande hekel weer
Dankie aan Gill wat tannie Kitty se nood onder ons aandag gebring het, en vir hulle wie se harte en hande oop was om te help


Om te brei en te hekel is vir die 80-jarige tannie Kitty van die Epilepsie-sentrum in Parys deel van ‘n dag se roetine. Jy sien haar nie sonder haar naalde en brei- of hekelgare nie. Die klein handjies is altyd besig.

Verlede week het tannie Kitty se sakkie naalde en gare egter iewers op die sentrum se perseel verlore geraak. ‘n Parysenaar wat van tannie Kitty se penarie te hore gekom het, het op die Chats for Parys WhatsApp-groep hulp gevra, en is daar dieselfde dag nog gehelp om tannie Kitty weer aan die hekel te kry. Maar dis nie al nie. Anna Patat het vir tannie Kitty ‘n hele sak wol en ekstra naalde geskenk om seker te maak haar wolletjies raak nie op nie. As jy die pragtige komberse en doilies in tannie Kitty se woonstel sien wat haar twee hande gemaak het, besef jy hoeveel vreugde die handwerk haar gee.

Dankie aan Gill wat tannie Kitty se nood onder ons aandag gebring het, en vir hulle wie se harte en hande oop was om te help.





