Save Ngwathe se ledetal groei
Meer as 500 mense het verlede Donderdag die gemeenskapsvergaderings van die Save Ngwathe drukgroep in Parys bygewoon.
Daar was teen Sondagaand met Gazette se ter perse gaan reeds 534 Save Ngwathe ledevorms ingevul, en 2 500 vorms uitgegee.
Tydens verlede week se Save Ngwathe gemeenskapsvergaderings is verduidelik dat formele lidmaatskap nodig is om legitimiteit te verseker, want die stem van lede bepaal die sukses wanneer vir oplossings rondom dienslewering beding word.
Save Ngwathe is ‘n nie-politiese, nie-winsgewende sambreelorganisasie wat al vyf die Ngwathe dorpe (Vredefort, Koppies, Heilbron, Edeville en Parys) insluit, en die Ngwathe munisipaliteit tot verantwoording wil roep waar dit kom by munisipale dienslewering.
Dit is hul langtermyn visie om belastingbetalers ‘n sê te gee in volgehoue en kwaliteit lewering van basiese dienste soos krag- en watervoorsiening, en riolering.

Die bestuurspan van Save Ngwathe is Karien du Plessis Viljoen, Pierre Britz, Barry Hamman, Hajira Yacoob, Juan du Toit, past. SJ Khumalo, Gerhard Swanepoel, Hennie Snyman, Hennie Hattingh en Sandra Uys. Met verlede week se vergaderings is daarop gewys dat al het mense by die groep se WhatsApp-groep aangesluit, dit steeds nodig is om, sou jy wou deel wees, formeel aan te sluit.
Mense kan lidmaatskapvorms invul wat beskikbaar is by Security Master, National Roadhouse, Plum Tree, The Local Choice Pharmacy, Blom Boutique en Provision.
Hoewel Save Ngwathe nie ‘n klagteforum is nie, wil die drukgroep data insamel oor diensleweringsprobleme en die persentasie klagtes wat opgelos word.
Mense kan diensleweringsprobleme op enige van die onderstaande platforms aanmeld waar jy ‘n verwysingsnommer sal kry. Dit is ook belangrik dat jy terugvoer op dieselfde platform sal gee as jou munisipale diensleweringsprobleem opgelos is.
Die platforms wat gebruik kan word, is:
E-pos: faults@savengwathe.co.za
WhatsApp: 076 581 1201
SMS: 44119.





