Nog drie dood waar kinders net meer as ‘n week gelede gesterf het
Nog 'n noodlottige botsing op R721

‘n Motorongeluk het gister, Dinsdag 9 Augustus, die lewens van drie mense ge-eis in ‘n botsing op die R721, sowat 32km buite Vredefort in die rigting van Kroonstad. Die voertuig het reg oorkant die botsingstoneel gelê waar vyf mense, onder wie vier kinders, op 31 Julie in ‘n grusame kop-aan-kop botsing gesterf het, en die bakkie waarin hul gery het, aan die brand geslaan het.

Die oorledenes van gister se botsing was twee vroue en ‘n man wie se identiteit met die skryf van die berig nog nie bekend was nie. Hulle was in die rigting van Kroonstad onderweg. Hul voertuig het met ‘n bakkie wat ‘n motor gesleep het en in die rigting van Vredefort beweeg het, trompop gebots. Die bestuurder van de bakkie en nog ‘n insittende is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. Hulle het ligte beserings opgedoen.






