News

Nie meer 25 nie, maar net 8 balke nog nodig vir kerk se dak

Gemeenskap se harte oop

Vyf en twintig dakbalke was vandeesweek nog kort om die dak op te sit van die Christen-gemeente in Schonkenville se splinternuwe kerkgebou waaraan lidmate al meer as twee jaar self bou. Maar nadat ‘n berig oor die gemeente se kerkbou aksie verlede week in die Gazette geplaas is, het die gemeenskap hul harte oopgemaak en is daar van die 25 balke nog net 8 balke kort om die dakkappe klaar te maak.

Daarna kan begin word met die pleisterwerk soos wat daar geld en skenkings is, en hoop die gemeente om teen Desember hul eerste erediens in die nuwe kerk te kan hou.

Lidmate, oud en jonk, het aan die kerk begin bou nadat die sinkgebou wat hulle vroeër opgerig het op die grond wat vir hulle geskenk is, net té klein en té warm geword het om kerk te hou, veral in die somermaande.
Die gemeente is in die laat tagtigerjare gestig en het 50 lidmate. Aanvanklik is in ‘n huis kerk gehou, en later is die gemeenskapsaal in Schonkenville vir eredienste gehuur.

Toe die gemeente die grond gekry het, is die sinkstruktuur opgerig, maar was dit Herman Johnson, hoofleier van die gemeente, se visie om vir die gemeente ‘n kerk te bou. Soos wat daar geld was vir boumateriaal, en danksy skenkings wat ontvang is, kon die bouwerk fluks vorder, en sal die nuwe kerkgebou sitplek hê vir 100 mense.
Naas die 8 dakbalke wat nou nog nodig is, sal die gemeente enige skenkings vir pleister sand en glas vir die kerk se vensters waardeer, sodat die dakkappe klaargemaak en daar so gou moontlik met die pleisterwerk begin kan word.
Mense wat kan help, kan vir Herman by 072 764 3731 skakel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button